News

Veekoper skuldig in moordsaak, wag vir vonnis

Die moordsaak spruit uit beweerde veekooptransaksie wat in ’n dodelike lokval ontaard het.

VANDERBIJLPARK – ‘n Voormalige veekoper van die Vaaldriehoek wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n jong Vrystaatse boer, bly in aanhouding nadat sy borgtogaansoek hangende vonnisoplegging vroeër vandeesweek tot Junie uitgestel is.

Jaco Botha is laat in Maart in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op Christian van Tonder, ‘n jong boer van Lindley in die Vrystaat.

Van Tonder is doodgeskiet en sy bakkie is op 29 November 2021 in die Barrage-omgewing in Gauteng gevind.

Die vermoorde Christian van Tonder. Foto: Facebook

Die hof het bevind die moord hou verband met ‘n transaksie waarin Van Tonder sowat 30 beeste aan Botha sou verkoop vir ‘n bedrag van bykans R300 000.

Volgens die getuienis is Van Tonder na ‘n afgeleë gebied gelok onder die voorwendsel dat die betaling daar afgehandel sou word.

Geen geld is egter op die toneel gevind nie.

Botha is in Augustus 2023, bykans twee jaar ná die moord, in hegtenis geneem.

Sy borgtogaansoek het destyds misluk en hy is sedertdien in aanhouding.

Tydens die jongste hofverskyning hierdie week het sy poging om borgtog hangende vonnisoplegging te verkry egter nie voortgegaan nie, nadat die staat bykomende eedsverklarings ingedien het wat sy nuwe regspan eers moet bestudeer.

Die saak is gevolglik tot Junie uitgestel.

Buiten die vertraging in die borgtogaansoek het dit ook in die hof aan die lig gekom dat Botha gesondheidsprobleme in aanhouding ervaar.

Die hof het opdrag gegee dat korrektiewe dienste dringend mediese behandeling aan hom moet verskaf.

Botha is ook skuldig bevind aan veediefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Hy is kort voor sy inhegtenisneming in die moordsaak reeds in ‘n afsonderlike saak van veediefstal skuldig bevind.

Vonnisoplegging word later vanjaar verwag, hoewel geen presiese datum nog bevestig is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button