News

Diewe ry met kerk se bakkie weg

Die kerk het die jongste slagoffer van misdaad geword.

VEREENIGING – Die Kerk tussen die Mielielande se Toyota Stallion-bakkie is verlede week van die kerkperseel gesteel.

Ten spyte van hierdie terugslag en aansienlike skade aan die eiendom, weier die kerkraad om toe te laat dat dié voorval hul uitgebreide gemeenskapsdiens tot stilstand bring.

Volgens Nelson Ndhlovo, ‘n algemene werker by die kerk, het hy die wit Toyota Stallion met registrasienommer BPF 681 GP op 14 April veilig binne die kerkgronde parkeer.

Hy het alle nodige voorsorgmaatreëls getref deur die voertuig omstreeks 16:30 te sluit, met ’n ratslot te beveilig en die alarmstelsel te aktiveer voordat hy die hekke gesluit het.

Die skok was groot toe hy die volgende oggend om 07:40 ontdek dat die voertuig spoorloos verdwyn het.

Sekuriteit Sonder Grense is onmiddellik na die toneel ontbied, waar daar vasgestel is dat niks anders tydens die voorval gesteel is nie.

Jestus Fouché, ondervoorsitter van die kerkraad, verduidelik dat die diewe vermoedelik toegang verkry het deur ’n naburige huis wat tans leegstaan, maar deel vorm van die groter kerkperseel.

Hoewel die 1997-model bakkie se waarde op sowat R55 000 geraam word, is die strukturele skade aan die muur wat die eiendomme skei veel hoër, met herstelkoste wat na raming R200 000 beloop.

Die Kerk Tussen die Mielielande. Foto: Christiaan Cloete

Die Kerk Tussen die Mielielande is bekend vir sy unieke bedieningsmodel waar daar nie ’n vaste leraar is nie, maar eerder op ’n rotasiestelsel van predikers staatgemaak word.

Hierdie benadering het die afgelope drie jaar tot groot groei gelei, met die kerk wat ’n dinamiese rol speel in die ondersteuning van mense sonder amptelike kerkverbintenis, die bestuur van ’n kliniek en ’n groeiende voedingskema.

Fouché bly egter positief en beklemtoon dat die werk van die kerk nie deur misdaad gestuit sal word nie. Hy voel dat die sukses van die afgelope drie jaar en die versterking van hul bediening veel swaarder weeg as die huidige verlies

“Die negatiewe kan nie die positiewe oorskadu nie,” het Fouché gesê.

Enigeen wat inligting oor die gesteelde voertuig het of ‘n bydrae wil lewer om die kerk te ondersteun, kan Jestus Fouché by 083 439 0697 skakel.

Jestus Fouché, ondervoorsitter van die kerkraad, sê die kerk sal nie deur misdaad gestuit sal word. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button