MEYERTON – Albei Bornman-broers het verlede naweek in Wuppertal, Duitsland, hul onderskeie gevegte by East vs West 23 gewen.
Die arena het opnuut kennis geneem van Suid-Afrikaanse armdrukkrag.
Die jonger broer, Duvan Bornman (17), het in die Regterarm Super Swaargewig-afdeling sy Duitse opponent, André Nykonenko, geklop om sy eerste groot internasionale deurbraak te beklink.
Sy ouer broer, Riekerd Bornman (22), het in die Regterarm Super Swaargewig-afdeling sy geveg teen Lars Rørbakken gewen en ook sy East vs West Rookie of the Year 2025-toekenning ontvang.
Dit is reeds verlede jaar aan hom toegeken, maar eers Saterdagaand amptelik op die verhoog oorhandig.
In ’n emosionele oomblik op die verhoog het Riekerd sy toekenning aan sy broer opgedra en verklaar dat hy glo Duvan eendag “die beste armstoeier in die wêreld” sal word.
Dit was ’n gebaar wat die broederband tussen die twee Meyerton-atlete in die kollig geplaas het.
Duvan het sy oorwinning opgewonde beskryf as “one amazing match.”
