ELM ampsdraers se beplande sowat R1 miljoen reis oorsee
Die besoek is moontlik gemaak deur die ANC wat die proses deur gestoomroller het ten spyte van duidelike en geregverdigde besware.

“Die VF Plus is ten sterkste gekant teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) se besluit om vyf afgevaardigdes na die Wêreldstede-beraad te stuur wat van 14 tot 16 Junie in Singapoer aangebied word,” beklemtoor raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfulenis.
“‘n Aanvanklike kosteberekening wat in Maart gedoen is, toon dat ‘n uitgebreide reis (wat van 12-21 Junie beplan word), sowat R970 000 gaan kos.
“Dit kan selfs meer word namate lugrederye heffings toepas weens hoë brandstofpryse,” sê Senekal.
“Dié stap onderstreep die feit dat die munisipaliteit onder die ANC verkies om ‘n internasionale reis te prioritiseer, terwyl Emfuleni onder ernstige finansiële druk verkeer en die dringende behoeftes van inwoners ignoreer.
“Die VF Plus beskou hierdie as ‘n voorbeeld van onverantwoordelike besteding weens gebrekkige leierskap,” kap Senekal.
Sy voer verder aan dat die argument dat sulke reise langtermynvoordele inhou, geen water hou wanneer daar geen duidelike, befondsde of geloofwaardige plan bestaan om verbeterings plaaslik te doen nie.
“Ons vereis die volle openbaarmaking van alle kostes en sal die uitkomste noukeurig monitor om enige gebrek aan implementering bloot te lê,” sluit Senekal af.
