‘Almal begin by ‘n stokmannetjie’
Een van die Vaaldriehoek se jong kunstenaars geniet dit veral om verskillende materiale kunswerk te meng. Ontmoet Mia Swartz
SASOLBURG – Helder kleure en kontras. ‘n Goeie beskrywing van Mia Swartz (graad 11) en haar kunswerke. Sy lyk soos haar ma, bekende veearts Letitia Swartz. Die lag is dieselfde, maar Mia is ‘n introvert.
Sy praat deur haar kuns. Saterdagoggend is haar oorbelle twee geel kuikens wat vrolik swaai as sy beweeg. Nie almal wat die bykomstigheid met styl sal kan dra nie, maar Mia kry dit reg.

Wys haar kreatiewe kant. Die een wat na die lewe in prentjies kyk. Een van haar vakke by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria is visuele kuns. Harde werk, maar sy reken uit en uit die moeite werd.
Kuns klop in haar are. Haar ouma Lealette is ‘n kunstenaar en haar grootste inspirasie. Elke vakansie pak sy en haar ouma ‘n ander medium aan. In die onlangse vakansie was dit loodglaswerk en vir die volgende een beplan hul die maak van porseleinpoppe.
Mia onthou dat sy nog altyd geteken het. Sy hou vol dat dit nie ingebore talent is nie, maar wel oefening en baie daarvan.
“Almal begin by ‘n stokmannetjie. Dié wat gedetermineerd is hou aan met oefen en oefen totdat daardie stokmannetjie eendag skielik ‘n voël word,” verduidelik sy.

Sy is mal oor kleur, veral rooi, en dit kan oral in haar kunswerke gesien word. Mia hou daarvan om gemengde media te gebruik om haar kuns uit te beeld. In 2025 het sy Guashe ontdek, waar waterverf en akrielverf gemeng word.
Sy oorweeg dit om Industriële Ontwerp te gaan studeer na skool. Natuurlik sal sy voltyds haar kuns wil beoefen, maar besef dat dit nie noodwendig dadelik kan of sal gebeur nie. “Ek het vir myself gesê: Mia word groot. Moenie stres nie. Jy kan steeds doen wat jy wil doen,” vertel sy.
Sy lag. “Ek dink ek sal ‘n tatoe kry. Nie nou nie. Eendag as ek 20+ is. Ek het nog nie myself gevind nie en ’n mens moet jouself goed ken om op die regte tatoe te kan besluit.”
Dis’ n ander ding wat sy oorweeg. Sy sal graag haar werk en liefde vir kuns wil kombineer en wat beter manier as om ‘n tatoeëer kunstenaar te word? Mia sien al hoe kan sy unieke kuns skep met elke tatoe wat sy doen.
