Local newsNews

ʼn Baken van veiligheid en hoop

Die Go Purple Foundation maak 'n verskil in baie lewens en hul staan bankvas agter 'n gemeenskap wat net swaarkry ken.

VANDERBIJLPARK – In die hart van CW2 staan daar ‘n kerkgebou. Al vir jare ‘n baken in ‘n gebied wat die speelplek van misdadigers en dwelmsmouse geword het.

Die gemeenskap kry swaar. Vir baie het honger wees deel van hul bestaan geword. Die ergste is egter die trauma waarmee soveel van hulle elke dag moet leef.

Van verkragting tot by geweldsmisdade teen vroue en kinders. Teenoor dit alles staan die kerkgebou steeds. Dit word lankal nie meer as ʼn kerk gebruik nie.  Vir 18 jaar al huisves dit die Go Purple Foundation onder leiding van Annari du Plessis.

In die 18 jaar het hul baie storms beleef; dinge het nie altyd na wense verloop nie, maar dit het nog nooit Annari se geloof geskud nie. Vir haar is elke dag ʼn dag van genade. Hul wens is om ʼn hawe van veiligheid en hoop te wees vir almal wat daar inkom.

“Ons kan help waar ons kan. Ons hoop om ’n trauma-eenheid hier te begin. Ek en van die vroue het reeds verlede jaar ʼn kursus in pastorale sorg en krisisbeheer gedoen. Die kursus is aangebied deur Prof. Wentzel Coetzer van die NWU in Potchefstroom,” sê Annari.

Sy het te same met bogenoemde jaarkursus ook haar Pastoral Care and Crisis Intervention focused on Children and Young People met lof geslaag.

Die Purple Foundation kan nie langtermyn verblyf bied vir mense nie, maar hulle poog om ʼn plek te skep waar mense net kan wees. “Ons deure is oop as iemand net bietjie wil kom sit en vrede ervaar. Ons is hier as hul wil praat,” beduie sy.

Die dames hou ook gereeld gemeenskapsprojekte waar hul saam mussies hekel om uit te deel of scrapbooking doen. Om al hul drome vir die sentrum ʼn werklikheid te maak, benodig hul fondse en het hul nou die Hop vir Nood inisiatief begin.

Die Purple Foundation is ʼn niewinsgewende organisasie en hul hoop om 500 vroue te inspireer om elke maand R100 te skenk. Vir meer inligting besoek hul gerus by Becqueralstraat 31 in CW2.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button