Sagmoedige Zeus moet ‘n huis kry
Zeus is ’n pragtige Harlequin Deense hond (Great Dane) wat nou net meer as ’n week by Purrpaws For Life Rescue Centre is.
Zeus, ’n drie jaar oue sagmoedige reus, moet sy eie “purr-fekte” huis kry.
Hy in die fleur van sy lewe, die ideale ouderdom om van voor af te begin en lewenslange herinneringe saam met ’n nuwe gesin te bou.
Alhoewel hy homself reeds vinnig in almal se harte ingewurm het, is die bestuur gretig om hom so gou as moontlik by ’n liefdevolle huis te plaas waar hy tot sy reg sal kom.

Zeus is sosiaal en het reeds gewys dat hy goed oor die weg kom met ander honde, en is selfs vriende met ’n kat.
Weens onvoorsiene uitdagings met plaasdiere op die kleinhoewe waar hy tans is, moet Zeus dringend herplaas word.
Hy kort bloot ’n kans om sy volle potensiaal te ontsluit en kwaliteittyd saam met sy mense te geniet.
Belangstellendes wat voel hulle kan ’n nuwe lewe aan Zeus bied, kan Purrpaws For Life Rescue Centre kontak by 083 650 9558 of 063 307 2226 om aansoek te doen vir aanneming.
Neem asseblief kennis dat aanneming onderhewig is aan streng reëls en keuring; aannemingsfooie is betaalbaar.

