Groen na blou: DA beweer VF Plus-lede in Midvaal sluit aan
Voormalige VF Plus-aktivis lei glo groep, maar party betwis omvang en tydsberekening.
OPDATERING – 2026/04/29 – 08:40:
Regstelling: ’n Vorige weergawe van die berig het die indruk geskep dat Susan Naudé ten tyde van haar aansluiting by die DA ’n lid van die VF Plus was. Volgens die VF Plus is haar lidmaatskap in 2024 beëindig. Die berig is dienooreenkomstig bygewerk.
MIDVAAL – Die DA beweer dat minstens 20 lede van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Midvaal hulle die afgelope naweek by die party aangesluit het, te midde van beweerde interne spanning binne die VF Plus se plaaslike strukture.
Die groep is glo gelei deur die voormalige VF Plus-aktivis, Susan Naudé, wat in ’n video wat tans op sosiale media versprei, skerp kritiek teen die party uitspreek.
Naudé beweer onder meer dat die VF Plus nie meer tyd het vir kiesers in Midvaal nie, en dat daar neerhalend na Meyerton verwys is as ’n “agtertandse dorp”. Sy beweer verder dat sekere lede as “kaalvoetkinders” en “maplotters” beskryf is.
Sy verwys ook na interne onenigheid wat spruit uit ’n vergadering op 25 November 2023, waartydens sekere plaaslike leiers uitgestem is. Volgens haar is die uitslag later ongeldig verklaar, waarna sy en ’n ander lid, Kobus Hoffman, geskors is.
Naudé het intussen beweer dat tussen 200 en 250 mense saam met haar na die DA oorgaan, hoewel hierdie syfers nie onafhanklik bevestig kon word nie.
Die VF Plus ontken egter dat daar onlangs ’n beduidende uittog was. Volgens die party se nasionale woordvoerder, Wouter Wessels, is die party “nie bewus van 20 lede” wat onlangs bedank het nie, en kan enige sodanige bewegings moontlik reeds in 2023 of 2024 plaasgevind het.
Die party het ook beklemtoon dat Naudé nie meer ’n lid van die VF Plus was ten tyde van haar aansluiting by die DA nie. Volgens Jaco Mulder, is haar lidmaatskap in 2024 beëindig nadat sy ’n ander politieke party openlik ondersteun het, wat volgens die party se grondwet onversoenbaar is met lidmaatskap.
Dokumentasie wat deur dié koerant gesien is, dui daarop dat Naudé in April 2024 in kennis gestel is dat haar optrede tot die outomatiese beëindiging van haar lidmaatskap kan lei, tensy sy redes verskaf waarom dit nie finaal gemaak moet word nie. Volgens die VF Plus is haar lidmaatskap later daardie jaar finaal beëindig.
Die party beskryf die huidige bewerings as deel van ou interne geskille wat reeds afgehandel is, en hou vol dat sy strukture in Midvaal stabiel bly.
’n Plaaslike DA-raadslid, Gerrit Viljoen, het egter gesê verdere oorlope nie uitgesluit kan word nie. “Ons verwag verdere beweging,” het hy gesê.
Voormalige VF Plus-raadslid Kobus Hoffman, wie se lidmaatskap ook in 2024 beëindig is, het intussen beweer dat daar breër ontevredenheid onder sekere lede bestaan, en dat ’n petisie met honderde handtekeninge vroeër opgestel is. Hierdie bewerings kon egter nie onafhanklik bevestig word nie.
Die presiese omvang, tydsberekening en aard van die beweerde oorlope bly dus onduidelik.

MIDVAAL – Die DA beweer dat minstens 20 lede van die Vryheidsfront Plus in Midvaal hulle die afgelope naweek by die party aangesluit het, te midde van beweerde interne spanning binne die VF Plus se plaaslike strukture.
Die groep is glo gelei deur die voormalige VF Plus-aktivis, Susan Naudé.
In ’n video wat tans op sosiale media versprei, lewer Naudé skerp kritiek op die party en beweer dat die VF Plus nie meer tyd het vir kiesers in Midvaal nie. Sy beweer verder dat daar neerhalend na Meyerton verwys is as ’n “agtertandse dorp” en dat lede as “kaalvoetkinders” en “maplotters” beskryf is.
Naudé verwys ook na interne onenigheid wat spruit uit ’n vergadering op 25 November 2023, waartydens sekere plaaslike leiers uitgestem is. Volgens haar is daardie uitslag later ongeldig verklaar, waarna sy en ’n ander lid, Kobus Hoffman, geskors is. Sy moedig lede aan om ’n 56-bladsy “herorganisasieverslag” te lees wat glo hierdie gebeure uiteensit.
Die bewerings spruit uit ’n langer geskiedenis van interne geskille binne die party se Gauteng-strukture wat reeds in 2023 en 2024 na vore gekom het.
Meyerton is as ’n ‘agtertandse dorp’ beskryf, en lede as ‘kaalvoetkinders’ en ‘maplotters’ uitgekryt,
Gerrit Viljoen, ’n DA-raadslid in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het gesê nog lede kan moontlik volg. “Ons verwag verdere beweging,” het hy gesê.
Die VF Plus ontken egter dat daar onlangs ’n beduidende uittog was. Wouter Wessels sê die party is “nie bewus van 20 lede” wat bedank het nie, en dat enige sulke persone moontlik reeds in 2023 of 2024 vertrek het.
Hy beskryf die bewerings as ou kwessies wat reeds afgehandel is en sê Naudé is “gegrief oor gebeure wat lankal hanteer en in die bed gesit is”. Volgens hom werk die party se raadslede steeds aktief in die gemeenskap en bly strukture in Midvaal stabiel.
Die presiese omvang en tydsberekening van die beweerde oorlope kon nie onafhanklik bevestig word nie.

