Mako nie vir Mani-moord gearresteer nie!
Die Uitvoerende Burgemeester doen ’n beroep op inwoners van die Emfuleni-streek, om verantwoordelikheid en oordeel aan die dag te lê in hul gebruik van sosiale media-platforms.
VANDERBIJLPARK – Die Kantoor van die Uitvoerende Burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Raadslid Sipho Radebe, het ernstige kommer uitgespreek oor die verspreiding van valse en lasterlike bewerings op sosiale media-platforms rakende die beweerde arrestasie van die ELM se hoof van finansies, Raadslid Hassan Mako.
Die gerugte wat op sosiale media versprei word, spruit uit die koelbloedige moord op ELM-werker Mani Ratsofu (39) op 30 Maart omstreeks 16:00 in Vanderbijlpark.
Daar word ook beweer dat Mako by die sogenaamde R16 miljoen-vlootbedrogsaak betrokke is.
Albei die sake word deur die spesiale eenheid vir polities-verwante sluipmoorde (PKTT) ondersoek, en tot op hede is niemand nog in verband met Ratsofu se moord in hegtenis geneem nie.

“Dit het onder die aandag van die Uitvoerende Burgemeester gekom dat sekere persone ’n smeerveldtog van stapel gestuur het met kwaadwillige bewerings teen Raadslid Mako.
“Hierdie bewerings is heeltemal vals en sonder enige feitelike of regsgrondslag,” lui ELM se mediaverklaring.
Die Uitvoerende Burgemeester het persoonlik met Raadslid Mako beraadslaag, wat bevestig het dat hy nie in verband met hierdie sake, of enige ander saak, gearresteer is nie.
Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het reeds die Munisipale Bestuurder opdrag gegee om toepaslike regs- en dissiplinêre prosesse in te stel teen enige amptenare wat in die betrokke forensiese verslag geïmpliseer word.
“Die verspreiding van valse inligting ondermyn nie net die integriteit van openbare instellings nie, maar kan ook strafbare nagevolge hê teenoor diegene wat die lasteringe aantuigings versprei.
“Dit het boonop die potensiaal om die veiligheid en reputasie van openbare verteenwoordigers en amptenare in gevaar te stel,” beklemtoon ELM in sy verklaring.
Die publiek word aangemoedig om hulself te weerhou van die deel van ongeverifieerde inligting.
