Dorp-substasie: Goeie nuus so net voor die winter
Die verwikkeling is goeie nuus vir huishoudings en plaaslike besighede wat tans onder onstabiele kragvoorsiening gebuk gaan.
VANDERBIJLPARK – ‘n Tweede transformator word tans voorberei om verligting te bring vir die woonbuurte wat deur die Dorp-substasie van elektrisiteit voorsien word.
“Inwoners in omliggende gebiede het die afgelope tyd toenemende klagtes aangemeld oor sporadiese kragonderbrekings op ongereelde tye.
“Hierdie situasie het ontstaan aangesien die huidige enkele transformator nie die volle kraglas kan dra nie,” verduidelik raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni.
As gevolg hiervan moes die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit noodgedwonge sogenaamde load reduction implementeer om verdere skade aan die infrastruktuur te voorkom.

“Die VF Plus het deurlopend druk toegepas en met die relevante owerhede geskakel om te verseker dat hierdie kwessie dringend aangespreek word.
“Ons verwelkom dus die vordering met die voorbereiding van die tweede transformator as ’n noodsaaklike stap om stabiliteit aan die netwerk te herstel,” sê Senekal.
Sodra ELM gereed is om die tweede transformator te koppel, sal dit na verwagting beduidende verligting bring vir huishoudings en plaaslike besighede wat tans onder onstabiele kragvoorsiening gebuk gaan.
“Ons sal die situasie noukeurig monitor en inwoners op hoogte te hou van verdere ontwikkelings. Ons bly daartoe verbind om namens die gemeenskap op te tree en volhoubare oplossings vir diensleweringsuitdagings te verseker,” sluit Senekal af.
