Ek sê maar net… My hond is ‘n piranha!
RUBRIEK - Klein van postuur, maar met 'n vurige geaardheid veral as sy voel sy word ingedoen... wat nooit die geval is nie.
RUBRIEK – Sy lyk so onskuldig… wanneer sy slaap. Kleinsus Antjie weeg minder as 5kg en hobbel op slegs drie bene rond. Die vierde een se knieskyf sit nie waar dit moet nie.
Sy is so gebore. Dit pla haar nie. As sy eers daardie kruppel beentjie se poot agter die ander been hak, dan moet jy weet hier kom moeilikheid.
Kleinsus Antjie is ‘n Pekinese. ‘n Baie veeleisende een. As sy iets wil hê, wil sy dit hê en sy sal aanhou grom en brom totdat sy dit kry.
In die aande as ek my moeë lyf in die bed kry, begin sy te blaf en te brom totdat ek haar optel. Dan skrop (my arme beddegoed) sy vir haar ‘n plek oop op die bed en verdwyn onder die beddegoed in.
Skuif al hoe nader aan my en ek skuif al hoe verder weg, want ek kry gou warm. Ek raak gereeld met een voet op die vloer wakker in ‘n poging om te keer dat ek nie afrol nie.
Nou die ander dag het ek seker te diep geslaap, want ek het met ‘n slag wakker geskrik toe ek van die bed af val. Hoe so ‘n klein hondjie dit regkry om ‘n dubbelbed vol te lê weet ek wraggies nie.
Maak die yskas oop en sy is dadelik by. Blaf sommer vir my. Sy wil melk hê. Net vars melk. Sy hou nie van daai wit langlewe goed wat ook melk genoem word nie.
Maak ek die kas oop om by die koffie te kom, trap sy klaar op my voet. Sy weet haar “sweets” word in dieselfde kas gebêre. Sulke pienk en roomkleur hartjies vir honde. Sy raak mal as ek daai houer uithaal.
Sit en vat mooi, waai onmiddellik by haar verstand uit. Die lieftallige Pekinesie ontaard summier in ‘n piranha – daardie vissies wat jou in die dieretuin se akwarium aangluur asof hul dink of hulle jou vir ontbyt of aandete gaan opvreet.
Kleinsus Antjie vat nie die lekkerny soos ‘n beskaafde hondjie nie. Sy spring en gryp dit uit jou hand. Grom sommer terwyl sy dit eet. Een oog op Baba Bessie en die ander op my om seker te maak ek snoep haar nie.
Was dit nie dat sy die meeste van haar tande verloor het nie, sou die bloed al geloop het. ‘n Gremlin sal nie met haar kan huishou nie.
Dié dat ek altyd sê oorlede Ma het die huis vir die honde gelos, ek is net hul onderdaan, slaaf, kok en algemene huishoudster.
