Sakeman se verhoor oor beweerde seksuele misdrywe teen minderjarige begin
’n Bekende plaaslike sakeman staan tereg op ernstige aanklagte.

VEREENIGING – Die verhoor van ’n plaaslike sakeman op aanklagte van seksuele misdrywe teen ’n minderjarige het verlede week in die streekhof in Vereeniging begin.
Die minderjarige klaer het Donderdag agter geslote deure (in camera) begin getuig, wat beteken dat die media en publiek nie toegang tot die verrigtinge gehad het nie.
Geen besonderhede van die getuienis mag gepubliseer word nie, aangesien dit deur wetgewing beskerm word om die identiteit van die minderjarige te beskerm.
Die saak spruit uit beweerde voorvalle wat tussen 2020 en 2022 plaasgevind het.
Die beskuldigde staan tereg op ernstige aanklagte wat verband hou met beweerde seksuele oortredings.
Die hof het die saak tot 20 Mei uitgestel, wanneer die klaer se getuienis sal voortgaan.
Geen verdere identifiserende besonderhede van die partye word gepubliseer nie, in ooreenstemming met wetlike en etiese vereistes.
