Einde van ‘n era: Barnyard Vereeniging sluit sy deure
Sedert Maart 2018 was dit Louis en Kobus Nel (broers) wat aan die stuur van sake was by dié gewilde kuierplek. En sedert 2024, Louis alleen.
VEREENIGING – Na 18 jaar se musiekvertonings, lekker kos en gesellige kuieraande, het die Barnyard Vereeniging besluit om sy laaste buiging te maak.
“Ek en Kobus het Meyerton Sports klub in Desember 2020 bekom, die plek sewe dae gehad toe die Covid-lockdown ingestel is. Genadiglik het die twee venues mekaar aangevul en mekaar deur die moeilike tyd gehelp om behoue te bly”, vertel Louis.
“Ons het dit darem oorleef en verskeie kere verbeteringe by Barnyard aangebring om sodoende die publiek elke keer ‘n beter ondervinding te gee. Maar dit was asof die plekke in Vereeniging net nooit weer dieselfde was na die Delta-vlaag in 2021 nie.”
Tog het die Nels daarin geslaag om die Barnyard ‘n groot trekpleiser in die area te maak, danksy top-vertonings, sportfunksies, skoonheidskompetisies en selfs skoolkonserte. Maar dit was steeds ‘n stryd.
In middel-2024 het Louis en Kobus besluit om die twee plekke van mekaar te skei, bloot weens administratiewe redes.
Louis was toe in volle beheer van Barnyard en Kobus van Meyerton Sports Klub.
Fokus op teater
“Ek het vir Lee Brune ingebring as tegniese direkteur (hy is welbekend in die industrie met meer as 25 jaar ondervingding). Ons het voluit gefokus op die teater.
“Die gehalte van klank en ligte het ook aansienlik verbeter en ons het teaterproduksies met gedetailleerde beligting begin doen vir onder meer dansskole, iets wat meer na tipiese teater as Barnyard Tribute shows begin neig het,” vertel Louis.
Terugslag
“Ons was van plan om die plek heeltemal oor te doen begin 2026, maar my gesondheid het ‘n terugslag gehad,” sê Louis.
Sy oogsenuwees was beskadig, iets wat nie herstel kon word nie. “Ek het eers gedink ek sien kans om voort te gaan, maar uiteindelik het dit te moeilik vir my geraak.”
Louis het gehoop om die besigheid aan ‘n gevestigde franchise te verkoop, maar kon nie ‘n suksesvolle koper kry nie.
Hy het dus in Februarie die finale besluit geneem om nie sy kontrak te hernu nie.
“Ekonomiese toestande, persoonlike redes en die wonderlike Emfuleni-munisipaliteit het bygedra tot my finale besluit.”
Wat lê nou voor?
Louis en sy vrou gaan vir eers op die gastehuis wat hul onlangs op die been gebring het fokus. Hy gaan ook in samewerking met Brune funksies vir skole ens. aanbied.
“Ek was vir sowat 25 jaar in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf voordat ons Barnyard oorgevat het en sal altyd ‘n passie daarvoor hê.” sê Louis.
“Ek het elektriese ingenieurswese geswot en deeltyds musiek gespeel as stokperdjie. My stokperdjie het uiteindelik vir my studies betaal. Dit was eintlik nooit die bedoeling gewees om ‘n brandewyn, klank en ligte ingenieur te word nie,” skerts Louis.
Maar hy kan terugkyk op ‘n suksesvolle agt jaar wat vir van die beste shows in die Vaal gesorg het en vele onvergeetlike ervarings en herhinneringe aan Vaaldriehoekers gebied het.
Hier is maar net ‘n druppel in die emmer van top-vertoning soor die jare – foto’s: Elsje Vermeulen




