News

Belangrike dokument laat bedrogsaak verder sloer

Die dokument is glo van kritieke belang.

VEREENIGING – Die hofsaak teen die voormalige boekhouer Jacoba Johanna Magretha ‘Joané’ van de Gevel sloer voort nadat die verdediging glo steeds na ’n “kritieke dokument” soek wat moontlik die verloop van die saak kan beïnvloed.

Van de Gevel (47) wat aangekla word van bedrog nadat sy na bewering miljoene rand van haar voormalige werkgewer, die Vereenigingse motorhandelaar Martin Morgan Motors, verduister het, was glo reeds besig om ’n opgeskorte vonnis vir soortgelyke misdrywe uit te dien toe die beweerde oortredings gepleeg is.

Sy het na bewering die geld na haar persoonlike bankrekeninge oorgeplaas. Van de Gevel het Woensdag weer vlugtig in die Vereeniginglanddroshof verskyn.

Die saak is egter weer uitgestel. Haar regsverteenwoordiger, Muhammed Omar, het aan die hof gesê die verdediging wag nog op een uitstaande dokument wat volgens hom “’n wesenlike impak” op die saak kan hê.

Joané van de Gevel gesels met haar regsverteenwoordiger, Muhammed Omar, in die hof. Foto’s: Christiaan Cloete

“Ons is steeds besig om daarna te soek. Die beskuldigde moes onlangs twee keer verhuis en die dokument is vermoedelik in een van die bokse,” het Omar verduidelik.

Ster verneem dat Van de Gevel tans in die Vrystaat woonagtig is.

Hy het bygevoeg dat die verdediging hoop om die dokument betyds op te spoor, maar dat hulle moontlik sonder dit sal moet voortgaan indien dit nie gevind word nie.

Die staatsaanklaer, Anél Viljoen, het bevestig die dokument is nodig om die verdediging se vertoë aan die staat te finaliseer.

Landdros Thataetsile Motolong het die saak daarna uitgestel vir die opsporing van die dokument.

Die saak spruit uit bewerings dat Van de Gevel geld uit die onderneming se rekeninge na haar persoonlike bankrekeninge oorgeplaas het. Haar hofverskynings is reeds verskeie kere uitgestel.

Van de Gevel het Dinsdag in ’n pienk baadjie in die beskuldigdebank ingeskuif en het merkbaar gewig verloor sedert haar vorige hofverskyning.

’n Manlike metgesel was, soos ‘n vorige keer, saam met haar in die hof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button