Karlien se ‘bucketlist-droom’ kry vlerke in Vanderbijlpark
Karlien (ook bekend as Karli) is 'n bekende Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer wat hoofsaaklik in die Afrikaanse musiekbedryf werk.
VANDERBIJLPARK – ‘n Volgepakte Frankie’s Family Inn het Saterdagaand (25 April) gewag dat Karlien Husselman haar verskeining maak, en toe word sy soos ‘n wafferse superster met ‘n privaat vliegtuig ingevlieg.
“Dit was een van my bucketlist-oomblikke: om in te vlieg vir ‘n optrede,” borrel Karlien. Dit is moontlik gemaak deur haar man Anthony McGee wat dit gereël het, en Joggie Joubert wat die droom letterlik vlerke gegee het.

Sy het oor die jare verskeie treffers en albums vrygestel, maar Saterdag het sy goue oues opgedis om lekker vermaak te bied.
Karlien en Anthony het ook die verhoog gedeel en vir ‘n gejodel en gejuig gesorg by Frankie’s.
“Anthony het asems weggeslaan met sy weergawe van Unchained Melody, en ek het mense gemotiveer en geïnspireer met my treffers soos: Lig in jou donker en Daar’s ‘n oorlog.
“Ek het ook my splinternuwe vrystelling Bo-op de Berge gesing,” vertel ‘n opgewonde Karlien.
Vir laasgenoemde liedjie het Sunette Bridges (die legendariese Bles Bridges se dogter) op ‘n video-oproep ingeskakel vanuit Amerika om die nuwe lied vir die eerste keer live te hoor.
Die nuwe enkelsnit het binne die eerste 12 dae sedert die vrystelling, meer as 12 000 views op Youtube gekry.
Karlien en Anthony het reeds in 2016 by ‘n fees in Secunda ontmoet. Daarna het hulle 10 jaar saam opgetree.
In September 2018 het hulle verloof geraak en is die volgende September getroud.
Tans tree hulle op onder die naam AKSEPTEMBER Duo (Anthony, Karlien, September).

Hul eerste enkelsnit is pas vrygestel op alle digitale platforms en die liriekvideo op Youtube onder Rivers & Bridges Recording Studio in Amerika.
Maar dit is net die begin. Karlien bring in Mei nog ‘n enkelsnit uit deur Sunette Bridges en daar gaan ook later nog ‘n duet vrygestel word.
Sunette Bridges
Sunette het vir jare saam met haar broer en ouers in Vereeniging gebly voordat Bles tragies in ‘n motorongeluk gesterf en die familie mettertyd die Vaal verlaat het.
Sunette het in die vroeë 90’s haar debuut gemaak en vinnig opgang gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy is bekend vir haar skryfwerk van emosionele ballades en pop-musiek.
Sy het ook naam gemaak weens haar uitgesproke politieke en sosiale standpunte.
Sy was die stigter van aksiegroepe wat gefokus het op die regte van minderheidsgroepe en die bewusmaking van plaasaanvalle in Suid-Afrika.
