Country was baas by LJ Musiekfees
Vaaldriehoekers en Country gaan saam soos vetkoek en stroop. Die naweek se LJ Country Music Festival was een vir die boeke.
VANDERBIJLPARK – Hy was die Big Daddy van Country musiek in Suid-Afrika. Met Lance James se afsterwe op 2 Maart 2020 was die musiekbedryf in rou gedompel. Kort daarna is die eerste LJ Musiekfees ter herinnering aan Lance James by Sharky Town gehou.

Sedertdien het dit tradisie geword. Hierdie jaar het die fees oor twee dae gestrek. Vrydag en Saterdagaand het kunstenaars van oor die land saamgetrek en hul harte uitgesing voor die groot foto van Lance op die LC Country Festival-banier.
Almal was daar, van een van die land se bekendste musiekpromotors, Mara van den Bergh, tot kunstenaars wat jare lank die pad saam met Lance James geloop het, insluitend legendes soos Tommy Dell, Barbara Ray, Clive Bruce en Tony Knight.

Die Vaaldriehoek is ook goed verteenwoordig met onder andere Manie Jackson, Colin Dee en Lion Jay. Saterdag is daar al vroeg begin en vanaf 13:00 het die motors by die hekke ingestroom.
Terwyl die mense binne op die maat van Country-treffers geskoffel het, het kleurryke stalletjies buite die saal aandag getrek, terwyl die geur van pannekoek die lug gevul het.

Colin Dee het na die fees op Facebook die fees goed opgesom: “En so kom daar ‘n einde aan ‘n besige naweek… Dankie aan elke ondersteuner en elke kunstenaar wat saam gekuier het die laaste twee dae. Dit was lekker om almal weer te sien. Tot ons mekaar weer sien. Shalom.”

Een ding is seker, Lance James sal nog lank onthou word en die LJ Country Music Festival is hier om te bly.
