News

RUBRIEK: Dis die klein dingetjies in die lewe

Dikwels is dit juis hierdie klein dingetjies in die lewe wat net op die regte tyd die grootste spasie in ons harte vul.

Die gesegde lui: “Dis die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.”

Dit is ’n sagte herinnering om die jaagstroom vir ’n oomblik te laat vaar en waarde te vind in die alledaagse.

Dit is daardie onverwagse ligpunte wat ’n grys dag kan inkleur en ’n glimlag op jou gesig tower voor jy selfs besef jy is gelukkig.

Tog glip hierdie kosbare oomblikke dikwels ongemerk by ons verby in die warboel van spertye en verpligtinge. Woensdag was ek gelukkig genoeg om nie so ’n oomblik mis te kyk nie.

Die week se Vaalweekblad-voorbereidings was in volle swang. Spertye het gedruk en my vingers het oor die sleutelbord gevlieg, maar ’n haarafspraak wat reeds weke gelede gemaak is, het my gedwing om die rekenaar teen my sin toe te klap en gou weg te glip.

By die salon se deur merk ek dadelik die leidraad op: ’n klein pienk kosbakkie. Enigiemand wat my ken, weet dat my hart onmiddellik sag word vir enigiets met vier pote en ’n stert.

Ek het dadelik geweet daar is vandag ’n spesiale gas wat saam met die kliënte kuier.
“Aan wie behoort die bakkie?” vra ek sommer met die intrapslag, my nuuskierigheid geprikkel.’n Vinger wys na agter in die salon.

Daar sit ’n vrou by die wasbak terwyl haar hare bederf word. Maar waar is die “gediertetjie”?

Eers toe ek mooi kyk, sien ek haar: Kiertsregop, soos ’n klein prinsessie op ’n troon, sit klein Ivy (’n vyf maande oue Toy Pom) op haar ma se skoot.

Sy was so klein en het so stilgesit dat ek haar wraggies misgekyk het.

Ivy, die skattige klein Toy Pom, sit kiertsregop op haar ma se skoot by die salon. Foto: Elsje Vermeulen

Voor ek my kon keer, was my selfoon uit. Die fotograaf in my kon die oomblik nie laat verbygaan nie. “Mag ek asseblief ’n foto neem?”

Ivy se trotse mensmamma, Amore Prinsloo, het met ’n glimlag ingestem.

Terwyl ek teruggestap het na die bank om vir my beurt te wag, kon ek nie help om van oor tot oor te glimlag nie.

Die “klein dingetjies in die lewe” het hierdie week die vorm van Ivy aangeneem. Sy het selfs later weer kom flikvlooi vir ’n paar drukkies en vryfies voordat ons paaie geskei het. My spertyd-stres was skielik iets van die verlede.

Wat was die klein dingetjies wat jou lewe hierdie week ryker gemaak het? Dink bietjie terug.

Was dit dalk ’n onverwagse oproep van ’n ou vriend, ’n boodskap wat jou laat besef het jy word waardeer, of iemand wat presies onthou het hoe jy jou koffie drink? Dalk was dit net ’n opregte kompliment uit die bloute.

Koester daardie oomblikke.

Dit is die tipe rykdom wat geen geld kan koop nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button