Local newsNews

10 weke sonder krag

Na 10 weke is die krag herstel, maar 8 Mei het sy weer opgestaan in 'n huis sonder elektrisiteit.

VANDERBIJLPARK – ‘n Pensioenaris van Hadfieldstraat in CW1 is vir 10 weke sonder krag gelaat na die brand by die Dorpsubstasie.

Die res van die straat se elektrisiteit was na ongeveer drie weke weer aan, maar Suzette le Roux se huis het donker gebly.

‘n Paar dae later was Hadfieldstraat weer in die duister gelaat nadat ‘n groenboks ontplof het. Weer is almal se krag herstel, maar nie Suzette s’n nie.

Sy is met al haar dokumente en betalingsbewyse na die munisipalekantore toe om ‘n klag te lê — sonder resultate. Daarna het tot die bure daagliks die probleem gerapporteer.

Al wat van die ELM Kontrolekamer ontvang is was “reported” of “noted”. Die VF Plus raadslede is gekontak en hulle het ingespring om die probleem te probeer oplos. Vir weke is daar gesê dis ‘n kabelprobleem.

Nadat Vaalweekblad deur potensiële kandidaat vir die VF Plus, Johan Cronjé, gekontak is oor die probleem, het die koerant dit opgeneem met April Kambule van ELM se elektrisiteitsafdeling. Dit was 24 April.

Volgens hom het ‘n elektrisiën die vorige week bevind dat die kragtoevoer na Suzette se huis by die groenboks geknip en geseël was weens wanbetaling. Synde dat haar rekening altyd op datum is, het Vaalweekblad vir raadslid Hein van der Lith van die VF Plus genader.

Hy het dadelik die saak opgeneem en die nodige dokumentasie aan die ELM kantore verskaf. Eers nadat hy ‘n klagte brief aan die munisipale bestuurder gestuur het, het die munisipaliteit laat weet dat daar ‘n kabel gesteel is.

Teen 30 April is hy ingelig dat hulle wag vir die nuwe kabel. Saterdag, 2 Mei, het elektrisiëns van ELM in Hadfieldstraat opgedaag. Nadat hulle bietjie by twee van die kragbokse gevroetel het, is die krag na die donker huis uiteindelik herstel. Interessant dat geen gate gegrawe is of ‘n nuwe kabel gelê is nie.

Hoekom ‘n bejaarde dame regtig vir 10 weke sonder krag gelaat is, sal net die munisipaliteit weet. Suzette is net verlig dat daar weer elektrisiteit in haar huis is. Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om die probleem op te los.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button