MEYERTON – Juanita de Necker van Meyerton Fighting Systems is onlangs as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon nadat sy Deminey Wiese, dogter van die voormalige Springbokslot Kobus Wiese, by die SA Nasionale Skopbokskampioenskappe in Oudtshoorn geklop het.
Die twee het mekaar van 24 tot 28 April vir ’n tweede keer gepak, dié keer in die low kick-afdeling, waar Juanita die oorhand gekry het in wat sy as ’n “taai geveg – letterlik bloed, sweet en trane” beskryf.

Deminey het hul vorige kragmeting verlede jaar by die Collide Fight League in Vereeniging gewen, maar Juanita het dié keer die bordjies verhang en gewys hoe vinnig sy ontwikkel het sedert sy eers in 2024 met skopboks begin het.
“Ek was laser-gefokus. Ek het ’n punt gehad om te bewys en van die oomblik wat ek daardie oggend opgestaan het, het dit gevoel of alles in my guns tel,” sê sy oor die geveg.
Die oorwinning het vir haar ’n diep emosionele betekenis gehad. “Dis soos ’n groot berg wat God van my skouers afgehaal het. Ek het net verligting gevoel dat al my harde werk uiteindelik vrugte afgewerp het.”

Onder leiding van Sensei David Kies slyp sy haar vaardighede by Meyerton Fighting Systems, waar sy gereeld teen manlike vegters oefen om haarself vir strawwe gevegte voor te berei.
“Dit maak jou reg vir ’n harde geveg op ’n manier wat mens nie altyd besef nie,” sê sy.
Juanita glo haar grootste verbetering die afgelope jaar lê in haar ingesteldheid. “Mindset. Ek het baie gewerk aan hoe ek myself sien en hoe ek met my eie brein werk. Determinasie is alles in dié sport.”

Buite die kryt werk sy as ’n administratiewe beampte, maar haar SA-titel het reeds haar selfvertroue ’n hupstoot gegee.
Met haar eerste nasionale titel agter haar naam, mik Juanita nou na groter geleenthede, met ’n fokus op die Collide Fight League en moontlike internasionale gevegte later vanjaar.
Sy het ook ’n sterk boodskap vir ander vroue wat oorweeg om skopboks aan te pak: “Skopboks gaan nie net oor baklei nie – dit gaan daaroor om jouself te vind. Jy hoef nie die sterkste of vinnigste te wees om te begin nie. Jy moet net gewillig wees. Kom een keer na die klub toe, dis hoe dit begin.”

