Mooinooi nou ‘wolwaardige’ Midvaler
Wat as ’n gevaarlike rit in 'n motorenjin begin het, het 'n sprokiesverhaal einde vir Mooinooi. Sy hoef nooit weer te vrees tydens ’n storm nie.
MEYERTON – Die wollerige verstekeling wat onlangs sowat 180 km lank in ’n motorenjin van Mooinooi tot in Meyerton gereis het, het uiteindelik haar “wolwaardige” tuiste as ’n permanente Midvaler gevind.
Die katjie, wat gepas as Mooinooi gedoop is, se groot avontuur het sowat twee weke gelede begin. Twee susters van Meyerton, Natasha en Marozane Groenewald, het op ’n Maandag ’n verrassing gekry toe hulle ’n benoude gemieau vanuit ’n motor hoor kom het.
Groot was hul verbasing toe hulle die jong katjie vind – vuurwarm maar wonderbaarlik ongedeerd.
“Ons vermoed sy het tydens ’n storm in Mooinooi, naby Rustenburg, skuiling in die enjin gesoek,” vertel Natasha. Die voertuig het egter die pad na Meyerton aangedurf voordat die klein reisiger kon ontsnap.

Volgens die susters was dit gou duidelik dat die katjie aan mense gewoond is.
“Sy is ontsettend vriendelik. Ons het probeer om haar oorspronklike eienaars in Mooinooi op te spoor, maar nadat dit vrugteloos was, het die soektog na ’n nuwe tuiste begin.”
Mooinooi het intussen geen tyd gemors om haarself tuis te maak nie en het die werkswinkelbestuurder se kantoor vinnig as haar tydelike koninkryk opgeëis.
Hoewel sy daar veilig was, het almal geweet dié dapper reisiger verdien ’n permanente tuiste en baie individuele aandag.
Daardie wens is onlangs vervul toe Nakita Loubser van Meyerton haar hart en huis vir Mooinooi oopgemaak het.
Die nuwe “mamma” het die katjie dadelik vir ’n deeglike veeartsondersoek en nodige inentings geneem. Hoewel Mooinooi vir ’n dag of twee daarna effe olik was, het sy intussen volkome herstel en aangepas by haar nuwe omgewing en “kat-sibbe”.
“Sy het reeds vriende gemaak met die ander katte en haar gunsteling lêplekkies in die huis uitgekies,” sê haar nuwe eienaar tevrede.
