Hondjies is hondjies wat aanhou blaf, aanhou blaf…
RUBRIEK - Hoe een hond so lank en aanhoudend kan blaf, weet ek nie. Baba Bessie kan vir ure aaneen blaf wanneer daar mense by die huis is.
RUBRIEK – Die Pekinese in hierdie huis is net engeltjies as hulle slaap. Kleinsus Antjie gee my grys hare en haar half-suster (hulle het dieselfde ma) gee my hoofpyn.
Baba Bessie is die oudste en grootste van die twee. Sy is nie baie dapper nie. Waai die wind net te kwaai buite, kruip sy stert tussen die bene onder my stoel weg. Sy is wel baie lawaaierig en hou glad nie van mense nie.
Enigeen wat hier wil aandoen moet hul eie pynpille saambring. Hoofpyn is gewaarborg. Waar Kleinsus Antjie kuiergaste welkom heet met ‘n groot gesnuffel aan hul voete en ‘n gehuil as hul ry, is Bessie die teenoorgestelde.
Van die oomblik wat iemand voor die hek stop, totdat die mense weer ry, blaf sy. Aanmekaar! Dis ‘n kort blaf gevolg deur iets wat sy sekerlik dink is ‘n grom, maar die geluid wat van agter haar keel uitkom klink meer soos die gekoer van ‘n tortelduif.
In die week het sy my amper tot raserny gedryf. Dit was Woensdag. Woensdae hang Spertyd se swaard oor my kop en het ek net een fokus en dis om soveel as moontlik berigte te skryf en op die stelsel te kry.
Die betrokke Woensdag arriveer die span wat vir my ‘n hekmotor moet installeer kort voor 07:30. Die oomblik toe die man die toeter druk om my te laat weet hulle is daar, het Bessie begin blaf. Sy het opgehou toe die span klaar was, om 13:00.
Elke keer as ek dit nie meer kon uithou nie en my stem verhef het tot die effek van “Bessie!” het Kleinsus Antjie ook haar stem verhef, want onder geen omstandighede mag ek meer aandag aan Bessie gee as aan haar nie.
Sy is ook meer as bereid om te eniger tyd vir Bessie aan te vat, ten spyte van die feit dat Bessie meer as dubbel haar grootte en gewig is.
Die res van die middag het daar uiteindelik stilte geheers. Die balans en vrede in die huis is herstel. Nodeloos om te sê, ek en die honde was uitgeput na al die lawaai. Hulle het gaan slaap, ek moes nog my spertyd haal.
