Dis tyd vir die Winter Skenkingsveldtog
Maak 'n verskil. Bring nie-bederfbare voedsel, toiletware en sanitêre produkte na Sharky Town hierdie Sondag. Dit gaan 'n lekker kuier wees.
VANDERBIJLPARK – Die winter het hierdie jaar vroeg oë gewys. Veral die nagte hap koud aan die hakskene. In die Vaaldriehoek is daar baie mense in nood.
Daarom span die Centurions MC, die Old School Bikers Social Riding Klub en die VF Plus jaarliks saam om fondse en goedere vir minderbevoorregtes in te samel.
Die groot Winter Drive vind Sondag, 24 Mei by Sharky Town plaas. Die motorfietsryers vertrek vanaf die Centurions MC klubgronde in Shakespearestraat om 10:00 na Sharky Town wat ʼn paar kilometer buite Vanderbijlpark op die R42 geleë is.
Die dag is nie net vir bikers nie. Almal word genooi om in die verrigtinge te kom deel wat om 11:00 begin.
Die doel is om soveel as moontlik nie-bederfbare kos en ontbytpap, toiletware soos tandepasta en seep, sanitêre produkte vir meisies, skoon komberse en warm, heel en skoon klere bymekaar te maak. Daar sal ook kaartfasiliteite en ʼn donasieboks wees vir kontantskenkings.
Met die geld wat ingesamel word sal verdere aankope van kos en badkamerbenodighede gedoen word. Al de skenkings word Maandag gesorteer en teen Donderdag sal alles uitgedeel wees.
Behalwe vir die insameling van die goedere, gaan daar stalletjies wees wat kosstalletjies insluit. Sharky Town se restaurant en kroeg sal ook oop wees. Verskeie kunstenaars sal optree waaronder die Vaaldriehoek se eie Kannie Warries Dansorkes.
