Op haar gelukkigste voor die kamera en op die loopplank
Cornette Fourie mag dalk net 16 jaar oud wees, maar sy weet reeds presies wat sy uit die lewe wil hê.
VANDERBIJLPARK – Cornette, ’n graad 11-leerder van die Hoërskool Driehoek, droom daarvan om ’n internasionale model te word.
Sy is op haar gelukkigste voor die kamera en natuurlik op die loopplank.
“Om haar merk in Parys en tydens die Modeweek in Milaan te maak, is waarskynlik haar grootste droom.
Sy koester ook drome om eendag haar eie klerereeks te ontwerp,” vertel haar ma, Hester Fourie.
Cornette het nou ’n ongelooflike geleentheid om haar drome ’n stap nader aan die werklikheid te bring.
Sy is gekies om haar modelleringskool te verteenwoordig by die eksklusiewe Project Aim Modelling Conference, wat in Februarie 2027 in Durban plaasvind.
Hierdie een-in-’n-leeftyd geleentheid is slegs op uitnodiging en bied haar die kans om voor top agentskappe van regoor die wêreld te verskyn.
Die konferensie sluit verskeie kompetisies asook werkswinkels oor loopplankwerk, advertensies en fotografiese modellering in. Met tien internasionale agente wat betrokke is, is dit ’n gulde geleentheid.
Om daar te kom, het Cornette egter die gemeenskap se ondersteuning nodig. Die totale koste om die konferensie by te woon beloop sowat R45 000, wat reiskoste en deelnamefooie insluit.
Dit is ongelukkig bo haar ma se vuurmaakplek, veral nadat Cornette se pa twee jaar gelede oorlede is.
“Cornette doen reeds modelwerk vandat sy drie jaar oud is en het geweldig hard gewerk om hierdie spesiale geleentheid te verdien. Daarom vra ek die gemeenskap se hulp.
“Ek wil so graag hê sy moet hierdie kans aangryp wat moontlik vir haar deure kan oopmaak,” vra Hester.

Potjiekos-kompetisie
As deel daarvan om fondse vir Cornette te verwerf, word ‘n potjiekos en Quiz-middag vir 22 Augustus beplan. Die potjiekos-kompetisie sal om 12:00 begin, gevolg deur die quiz.
“Wat ons benodig is inskrywings vir die potjiekos. Deelname sal gratis wees met die voorwaarde dat jy 10 mense om jou tafel moet kan kos gee met jou potjie. Die bykosse sal voorsien word,” verduidelik Hester.
Koste per tafel is R2 000 of R250 per persoon.
Daar word ook geborgde pryse benodig wat vir die potjiekos-kompetisie aangewend kan word. Daar word ook twee beoordelaars vir die potjiekos-kompetisie benodig.
Indien daar enige weldoeners is wat met enige van die bogenoemde versoeke kan help, kan Hester by 061 463 8497 of hesterfouriecc@gmail.com gekontak word.
Indien daar enige donasies is, kan dit direk in Cornette se bankrekening betaal word:
Cornette Fourie
Capitec spaarrekening: 2522622672
Takkode: 470010
of
https://www.backabuddy.co.za/campaign/cornette-fourie
