Vories sien en ruik net nartjies
Sasolburg se Voortrekkers het ywerig gehelp met hul jaarlikse fondsinsamelingsprojek.
SASOLBURG – Saterdag was ‘n groot dag vir die Voortrekkers se Sasolburg Kommando. Hulle moes 4.8 ton nartjies verpak.
Die nartjies is in Brits gaan haal en al die los nartjies moes in sakkies kom. Die Vories het ywerig ingespring en nartjies aangedra, verpak en uitgedeel.

Chirna Kruger sê hulle verkoop die nartjies as deel van hul jaarlikse fondsinsamelingsprojek om die Voortrekkerterrein te onderhou.
Die fondse dien ook om die Vories te help om te gaan kamp en ander aktiwiteite te doen. Hierdie jaar het hulle boonop vir ander nie-winsgewende organisasies en plekke nartjies geskenk.

Tans het hulle al 1 800 sakkies nartjies verkoop en het nog sowat 500 pakkies oor. Die 2kg pakkies nartjies teen R40 kan op Woensdaemiddae tussen 17:15 en 18:30 by Brillstraat 20 gekoop word, of skakel Chirna by 083 546 6998.
