News

Dorp-substasie: Tweede transformator sal verligting bring

Vaalweekblad het Maandag saam met raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni ’n besoek aan die Dorp-substasie afgelê om self te sien hoe sake vorder.

VANDERBIJLPARK – ’n Tweede transformator by die berugte Dorp-substasie word tans voorberei om verligting te bring vir die woonbuurte wat deur dié substasie van elektrisiteit voorsien word.

Eskom-personeel werk reeds geruime tyd aan dié transformator. Sou dit nie wees vir ’n fout wat by die NEC (wat die transformator moet beskerm) gevind is nie, sou die transformator reeds in werking gewees het.

Dié transformator is reeds die afgelope vier jaar op die perseel, maar omdat dit ’n Chinese vervaardiging is, het dit verskeie uitdagings gestel om dit in werking te stel.

Weens die feit dat die tweede transformator nog nie in werking is nie, het inwoners sporadiese kragonderbrekings ervaar en is load reduction ingestel om die transformator wat wel in werking is, teen oorlading te beskerm.

Die tweede nuwe transformator (20 MVA) by die Dorp-substasie. Daar word tans aan die NEC (links voor) gewerk voordat die transformator aangeskakel kan word. Foto’s: Elsje Vermeulen

Uitgebrande transformator

Die vorige transformator wat onlangs uitgebrand het en inwoners vir meer as ’n maand sonder elektrisiteit gelaat het, was ’n 30 MVA-transformator en het nie ’n NEC gehad wat dit beskerm het nie.

Dit staan steeds uitgebrand tussen die twee nuwe transformators.

Die ou uitgebrande transformator by die Dorp-substasie staan tussen die twee nuwe transformators.

Huidige werkende transformator

Die nuwe transformator (30 MVA) wat die uitgebrande een vervang het, werk 100%, maar is nie voldoende om aan die groot gebied en duisende inwoners elektrisiteit te voorsien nie.

Vir die hoeveelheid elektrisiteit wat die Dorp-substasie voorsien, behoort daar eintlik ’n 60 MVA-transformator in werking te wees.

Die huidige werkende transformator, saam met die tweede een (20 MVA) waaraan daar tans gewerk word, sal saam 50 MVA kan voorsien.

Dit sal aansienlik druk verlig en bydra tot beter elektrisiteitsvoorsiening aan al die inwoners wat daarvan afhanklik is.

“Ons verwelkom die vordering met die voorbereiding van die tweede transformator as ’n noodsaaklike stap om stabiliteit aan die netwerk te herstel,” sê raadslid Senekal.

Daar kan nog nie met sekerheid gesê word wanneer die tweede transformator in werking sal tree nie.

Daar was aanvanklik beplan dat dit reeds teen die einde van April gereed sou wees, maar die fout by die NEC het die planne laat ontspoor.

Daar kan wel bevestig word dat daar tydens die besoek ’n volledige span werkers aan diens was, en dit wil voorkom asof dinge nou aan die gebeur is.

Indien daar nie nog foute opgespoor word nie, kan die transformator moontlik voor die ergste winterkoue in werking wees, wat kan help om min tot geen kragonderbrekings te ervaar.

Raadslid Gerda Senekal by die werkende 30 MVA-transformator by die Dorp-substasie wat tans elektrisiteit aan duisende huishoudings verskaf.

Die areas wat van die Dorp-substasie afhanklik is:

CW 1, 2, 3, 5 en 6

Bonanné

Bophelong

Bophelong-uitbreiding

NW7

Kleinhoewes

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button