‘Fopwerktuigkundige’ agter tralies ná vonnis
’n Meyerton-man is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy voertuie wat vir herstelwerk bedoel was, onwettig verkoop het.
MEYERTON – Shane Christopher Ward (24), ’n man wat daarvan beskuldig is dat hy voertuie onder die voorwendsel van herstelwerk geneem het en sonder toestemming verkoop het, is op 14 Mei in die Vereeniging-streekhof gevonnis.
Ward, wat op drie aanklagte van motordiefstal tereg gestaan het, is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar effektief en vyf jaar opgeskort is.
Dit volg nadat hy skuldig gepleit het op al drie aanklagte teen hom.

Die vonnis hou verband met sake wat deur twee klaers, Belinda-Lee Coetzee en Lindy Keen, teen hom aanhangig gemaak is.
Coetzee (53) het beweer dat Ward haar unieke VW Beetle, sowel as ’n trailer, onder die voorwendsel van herstelwerk kom haal het en dit daarna sonder haar toestemming verkoop het.
Ek het onraad vermoed toe ek my voertuig verskeie kere in die dorp opgemerk het.
Coetzee het beweer dat Ward aanvanklik aangebied het om haar trailer te koop, maar toe gekla het dat dit te duur is. Hulle het toe ’n ooreenkoms bereik waarvolgens hy ’n bedrag sou betaal en ook haar Volkswagen Beetle sou herstel.
Sy het gesê Ward het haar vir die voertuig se dokumente gevra, wat die verkoop moontlik gemaak het.
Sy het gesê sy het later onraad vermoed toe sy die voertuig verskeie kere in die dorp opgemerk het.
Volgens haar is beide haar Beetle en trailer daarna egter sonder haar toestemming verkoop.

Nog ’n klaer, Lindy Keen (51), het beweer dat Ward haar Opel Corsa Lite geneem het om herstelwerk te doen, maar dit later sonder haar toestemming aan ’n man van Boltonwold verkoop het.
Ward, wat al verlede jaar aangekla is, se moeilikheid met die gereg het vererger toe hy spoorloos verdwyn het terwyl hy op borgtog was.
’n Lasbrief is in Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik nadat hy versuim het om in die hof te verskyn.
Privaatspeurders het hom uiteindelik na bykans twee maande op 25 Januarie in Bloemhof opgespoor.

Hy het tydens sy tweede borgaansoek in Maart beweer dat hy nie in Desember in die hof was nie omdat hy na Bloemhof verhuis het vir werk. Verder het Ward beweer dat hy boonop die aand voor sy hofverskyning by ’n vulstasie van ’n selfoon, R2 000 kontant, ’n goue ketting en ’n karradio beroof is.
Ward se tweede borgaansoek in die Vereeniging-streekhof het misluk, hoofsaaklik omdat hy verhuis het sonder om die hof in kennis te stel van sy nuwe adres.


Ward het tydens die borgaansoek bewerings ontken dat hy privaat herstelwerk aan voertuie gedoen het, en aangevoer dat hy slegs kortstondig in 2022 by ’n werkswinkel in Meyerton gewerk het.
Hy het egter later skuld erken op die aanklagte.
Die ondersoek en moontlike verdere sake teen Ward duur voort.

