Braaf die Boerboel kuier by Kollegepark
Kollegepark se jongelinge leer speel-speel in Solidariteit Helpende Hand se teen boelies veldtog.
VANDERBIJLPARK – Die Gr.RR tot Gr. 3 leerders van die Laerskool Kollegepark was Dinsdag uit hul kassies toe Braaf die Boerboel by hul kom kuier het.
Braaf-die-boerboel is van Solidariteit Helpende Hand en hy reis die land vol om die kinders te herinner dat egte helde braaf en vriendelik is. Hulle staan ook op teen boelies.
Daar is saamgesing, gelag en geleer dat hulle ook ʼn groot verskil kan maak. Elke leerder het ook ’n Braaf-die-Boerboel plakker gekry.
Kollegepark het op hul Facebookblad gesê: “Dankie aan Solidariteit en Braaf die Boerboel vir ’n onvergeetlike besoek! Julle het beslis vandag baie klein hartjies warmer gemaak.”
Solidariteit Helpende Hand beskryf Braaf die Boerboel as volg: “Braaf die Boerboel is Solidariteit Helpende Hand se eie superheld. Hy is ‘n Boerboel in kakie met ‘n groot hart vir ander.

Met besoeke aan skole reg oor die land en in ‘n reeks van tien strokiesprente leer Braaf kinders dat ware dapperheid nie gaan oor superkragte nie, maar oor empatie, moed en die bereidheid om ander te help. Die reeks is geskryf deur Elana Barker en geïllustreer deur Lezinka de Meyer.
Braaf is geïnspireer deur die liedjie “Braaf soos ‘n Boerboel” van die Afrikaanse groep JAN JAN JAN en ondersteun Helpende Hand se nasionale Skooltassie-projek. Hierdie projek sit jaarliks ‘n skooltassie vol skryfbehoeftes in die hand van duisende graad 1-leerders wat dit regtig nodig het.”
