Vrou verloor haar huis én word gevonnis weens bedrog by Sasolburg-maatskappy
Die vonnis spruit uit voorvalle wat tussen 26 April 2022 en 28 Desember 2023 by ’n onderneming in Sasolburg plaasgevind het.

SASOLBURG – Die Sasolburg-streekhof het die 53-jarige Janine Scheepers op Vrydag, 15 Mei, skuldig bevind en gevonnis op aanklagte van bedrog en geldwassery.
Die klaers, Elzette Swannepoel en Frankie de Paiva, het aangevoer dat die beskuldigde oor ’n tydperk van twee jaar ’n bedrag van R990 506,06 op ’n bedrieglike wyse gesteel het.
Tydens die ondersoek is vasgestel dat die beskuldigde bankbesonderhede gemanipuleer en vervals het. Sy het kliënte se bankinligting na haar eie rekeningbesonderhede verander, wat daartoe gelei het dat betalings wat vir kliënte bedoel was, na haar persoonlike rekening oorgeplaas is.
Speurdersersant Anoesjka Maartens van die Sasolburg-speurdiens was in beheer van die saak. Deur deeglike ondersoek, toewyding en harde werk het sy die bewerings teen die beskuldigde suksesvol bewys.
Scheepers is uiteindelik aangekla op:
45 aanklagte van bedrog
45 aanklagte van geldwassery
Die beskuldigde se huis, met ’n geskatte waarde van sowat R900 000,00, is deur middel van die beslaglegging op bates gekonfiskeer en na die klaers se name oorgedra.
Die hof het die beskuldigde verder gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf, of die opsie van ’n boete van R200 000,00, wat in die geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Scheepers is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

