Local newsNews

Antjie is nie ‘n oggend-hondjie nie

Rubriek: Kleinsus Antjie hou nie van vroeg opstaan nie. Kwaai Babatjie Bruinette durf jy nie vroeg wakker maak nie. Sy hou dit teen jou tot etenstyd.

RUBRIEK – VANDERBIJLPARK – Behalwe dat Pekinese Kleinsus Antjie, wat minder as 5 kg weeg, enige een van ʼn dubbelbed kan afslaap, is sy ook nie een vir vroeg opstaan nie.

Jy kan ligte aan en afsit. Later gordyne ooptrek. Kasdeure oop en toemaak. Sy roer nie. Nie eers as ek die agterdeur oopmaak vir Baba Bessie om uit te gaan nie.

Ek het haar al gelos dat sy slaap. Teen 11:30 moes ek haar wakker maak.  Sy was nie gelukkig met my nie.

Wanneer ek moet uitgaan vir ʼn storie, los ek bed opmaak vir nommer 99, want ʼn mens versteur nie die koningin van die huis sonder ʼn goeie rede nie.

Dan beter jy dit ook baie versigtig doen. Niks van komberse wegtrek en hard praat nie. Jy trek die komberse in lae weg totdat jy haar vind.

Dan praat jy saggies met haar. “Kom baba. Antjie, jy moet wakker word.” Jy tel haar saggies op en sit haar saggies in ʼn sagte mandjie neer.

Behalwe dat ek steeds vuil kyke kry, sal sy dan soort van wakker wees, lui haar bene strek, selfs die kruppel-enetjie, en dan onvas op haar voete haar weg sien na die kombuis.

As ek gelukkig is die dag, dan maak sy gou. Maar ja, wanneer ek op my haastigste is en klaar amper laat is vir ʼn afspraak, dan kan juffie haar tyd vat.

Sy vorder net tot by die trappie en gaan lê in die son. Bietjie aanmoediging en sy sal weer met groot rek en strek dit maak tot op die gras.

Ongelukkig is Antjie bietjie aandag afleibaar. Ritsel die blare in die boom, kyk sy eers daarvoor. Vlieg daar ʼn voëltjie trek dit haar aandag. Elke nou en dan staar sy na Myse Ford Mich asof sy hom in haar lewe nog nie gesien het nie.

Teen daai tyd is my geduld natuurlik lankal op en begin my Bruinette-humeur in die rooi ref. Die “ag kom nou Babatjie” verander so na die derde “maak nou klaar, ek is laat,” in haar volle doopname “Anna Catharina Pieternella!…”  

Dan kan sy skielik baie vinnig haar dinge doen en vol spoed op drie bene die huis in snel. Net om weer te gaan slaap… tot etenstyd… daarvoor is sy altyd wakker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button