Twee krokodille by woning gered!
Die reddingspoging het gevolg nadat inligting ontvang is dat twee skilpaaie en twee krokodille sonder die nodige permitte daar aangehou word.
Die Vereenigingse eenheid vir Veediefstal en Bedreigde Spesies, het Maandag saam met lede van die Tshwane K9-eenheid en ander rolspelers gehelp om twee lewende krokodille by ‘n woning te red.
Die arme krokodille was reeds vermoedelik vir sowat twee jaar by die woning in Springs aangehou.
’n Aansoek om ’n visenteringslasbrief is ingedien en deur die Springs-landdroshof goedgekeur om die eiendom te betree en te deursoek.
Gewapend met die lasbrief het die gekombineerde eenhede (wat ook die Gautengse Departement van Omgewingsake, die Johannesburgse Wildtuin-hospitaal en die Springs-DBV) ingesluit het, omstreeks 10:00 op die woning toegeslaan.
Die eienaar was egter nie in daardie stadium teenwoordig nie, en lede is deur ’n beweerde bestuurder van sy maatskappy op die perseel vergesel.
Tydens die deursoeking is ’n swart staalhok van sowat 5,6 meter by 1,8 meter ontdek, met twee Nylkrokodille en ’n klein blou plasdammetjie daarin.
Die krokodille het onderskeidelik 1,48 meter en 1,7 meter gemeet en is na bewering al langer as twee jaar daar aangehou. Geen skilpaaie is gevind nie.
Krokodille kan nie vir lang tydperke sonder toegang tot water lewe nie, en om hulle in ’n droë hok aan te hou is uiters wreed en skadelik vir hul gesondheid.
Beslag is op die krokodille gelê en hulle is aan die Johannesburgse Wildtuin-hospitaal oorhandig vir mediese behandeling en bewaring.
’n Strafregtelike saak is by die Springs-SAPD geopen weens die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (NEMBA), vir die aanhou van bedreigde of beskermde spesies sonder ’n permit.
Die ondersoek duur voort.
Mense wat beoog om enige soort eksotiese troeteldier of wild aan te hou, moet hulself vergewis van die wette wat spesifieke spesies beskerm en reguleer, asook of wettige permitte wel verkrygbaar is.
Wilde diere hoort in die wild, nie in hokke nie!
