Vaalpets se dapper klein gelukbringer
Soms kom die grootste lewenslesse in die kleinste pakkies.
VANDERBIJLPARK – Ontmoet vir Igi, ’n dapper driejarige pug-kruising wat tans harte regoor die Vaaldriehoek vermurwe.
Met die eerste oogopslag lyk sy dalk net na nog ’n oulike skoothondjie, maar agter daardie ronde ogies lê die hart van ’n ware klein vegter.
Igi se storie kon maklik ‘n hartseerverhaal gewees het. Nadat sy deur ’n motor raakgery is, is sy bloot soos rommel in die pad gelos om dood te gaan.
Maar gelukkig vir hierdie woef is daar mense (dalk engele) soos Caitlee wat hoop bring.
CaitLee, die stigter van Special Paws in Vanderbijlpark (’n skuiling wat omsien na honde met spesiale behoeftes en ernstige beserings – maar ongelukkig intussen sy deur gesluit het) het nie twee keer gedink toe sy die beseerde hondjie gewaar nie.
Sy het Igi dadelik gaan red en na die veearts gehaas.
Dit was die begin van ’n uitmergelende pad van intense behandelings, operasies en maande se fisioterapie.
“Daar was donker, moeilike dae; dae van bitter stadige vordering waar dit vir enigiemand makliker sou wees om handdoek in te gooi,” vertel Andey Wrigley, woordvoerder van Vaalpets.
Maar niemand het vir Igi vertel van opgee nie. Sy het bloot geweier om op te hou veg.

“Haar agterbeentjies is dalk nog soms ’n bietjie wankelrig, maar haar gees is onstuitbaar.”
Vandag is al daardie harde werk en trane vergete. Igi kan weer loop en selfs hardloop. Haar wankelrige beentjies keer haar vir geen sekonde om die lewe voluit te geniet nie.
Trouens, as daar ’n squeaky toy in die omtrek is, kan jy maar weet: Igi gaan hom eerste bykom, selfs al moet sy haar gemiddelde spoedgrens oorskry!
“Ten spyte van die trauma en pyn wat sy aan die hand van mense ervaar het, is Igi die liefdevolste hondjie denkbaar.
“Haar hele wese draai om drukkies, liefde en om so na as moontlik aan haar mens-vriende te wees,” vertel Andey.
Igi spog tans met die amptelike titel as die gelukbringer van Vaalpets. Met haar klein lyfie en dapper stappie is sy die lewende bewys dat wonderwerke wel gebeur.
Op slegs driejarige ouderdom het hierdie klein hondjie reeds vir honderde mense gewys wat ware deursettingsvermoë en onvoorwaardelike liefde beteken.
Hulle sê mos nie alle helde dra mantels nie. In die geval is die held in die verhaal ‘n vriendelike klein wolhaar, op wankelrige beentjies met ‘n speelding in die bek.
