News

Sasolburg-inwoners red man van bye-dood

Die enigste silwerrandjie van die voorval is dat mense genoeg omgegee het om te help!

SASOLBURG – Inwoners wat flink gedink het, het gehelp om ‘n man in nood se lewe te help red toe hy deur ‘n swerm bye aangeval is.

“Ek het op 27 Mei omstreeks 14:30 in President Brandstraat gery toe ek iets in die pad voor my sien lê. Toe ek nader kom besef ek dit is ’n man wat op die middel-eilandjies gras gesny het, maar nou aan die linkerkant van die pad lê asof hy van iets probeer wegkom,” vertel ‘n inwoner.

Sy het dadelik gestop om te help verhoed dat ander motoriste hom raakry.

Dit was toe dat sy merk dat hy deur ‘n swerm bye aangeval word.

Intussen het nog inwoners probeer help, maar besef dat ‘n brandblusser nodig was om die werker te red.

“Eindelaas het ‘n motoris wat ‘n brandblusser gehad het, ook gestop en die bye gespuit.

“Vir ’n oomblik het dit gelyk of die situasie onder beheer was en die man het opgestaan. Maar daar was steeds bye binne sy werksklere en hulle het hom steeds aangeval.”

Die omstanders moes weghardloop na veiligheid, terwyl die werker weer inmekaarsak en aanhoudend gesteek word.

Daar is rondgebel na verskeie instansies vir hulp, selfs die brandweer. Maar die antwoord wat gegee is: “We are not playing here.”

“Daardie woorde het my stom geslaan. Gelukkig het daar intussen nog iemand met ‘n brandblusser gestop, en die arme werker kon uiteindelik hospitaal toe geneem word,” vertel die inwoner.

Sy het die brandweer weer geskakel en laat weet dat die situasie intussen deur lede van die publiek hanteer is. Die antwoord was bloot: “Yes, we heard he is going to the hospital.”

En dit was dit.

Nou kan mens wonder wie bel mens in so ‘n noodgeval. Want hieruit kan afgelei word dat die brandweer waarskynlik nie die beste opsie is nie.

“Ek bedank almal wat gestop het om te help. En ek hoop dit gaan beter met die arme werker en dat hy spoedig sal herstel,” sluit sy af.

Illustrasiefoto: Fransie Stevens (Elsje’s Choice on Photos-fotogroep).

Wat lei tot ‘n aanval?

Bye is oor die algemeen nie aggressief nie; hulle is defensief. Hulle val aan wanneer hulle voel hul koningin, hul nes of hulself word bedreig.

Die mees algemene rede vir aanvalle is as die nes fisies versteur word.

In hierdie geval was dit waarskynlik weens vibrasies en harde geluide (grassnyers, weedeaters) naby ’n nes wat die bye laat dink het hulle word aangeval.

Wanneer ‘n by dan aanval, word feromoon afgeskei, wat ‘n kitswaarskuwing aan die res van die kolonie is om aan te val.

Belangrik

As jy een by doodslaan, stel dit ook hierdie feromoon vry, wat net nog meer bye na jou toe lok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button