Twee sterf in ernstige botsing op Jim Fouchéweg
'n Noodlottige botsing in Jim Fouchéweg het vroeg Sondagoggend die lewens van twee mense geëis.
MEYERTON – Twee mense het in die vroeë oggendure van Sondag 31 Mei hul lewens verloor in ‘n ernstige motorvoertuigbotsing op Jim Fouchéweg in Riversdal, Meyerton.
Nooddienste is kort ná middernag na die toneel ontbied nadat ‘n botsing tussen twee ligte motorvoertuie aangemeld is.

Met hul aankoms het reddingswerkers die beseerdes behandel, maar twee persone is tragies op die toneel dood verklaar.
Nog ‘n persoon het ernstige beserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Verskeie nood- en ondersteuningsdienste was op die toneel om hulp te verleen.
Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium nog nie bekend nie en sal na verwagting deur die betrokke owerhede ondersoek word.
