Herstelwerk aan Jim Fouché-brug begin
Herstelwerk aan die Jim Fouché-brug kan uiteindelik begin, ná jare se kommer oor die stand van die brug.
MEYERTON – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het bevestig dat herstelwerk aan die omstrede Jim Fouché-brug oor die Kliprivier vroeg in Junie sal begin.
Die aankondiging volg ná jare se toenemende kommer oor die brug se strukturele agteruitgang, sowel as verhoogde verkeersdruk in die gebied.
Volgens die munisipaliteit sal die rehabilitasieprojek deel vorm van ’n infrastruktuurprogram van die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer.
Die werk aan die brug is reeds op die munisipaliteit se amptelike Facebook-blad bevestig, met voorbereiding wat na verwagting vroeg in Junie sal afskop.
Motoriste word intussen versoek om versigtig te wees in die area, aangesien konstruksie-aktiwiteite verkeersvloei tydelik kan beïnvloed.
