Vrou verloor hand en voorarm na Pitbull-byt
Die voorval het op 14 Mei tussen 14:00 en 15:00 plaasgevind toe Christa en haar vriendin, Jess Hattingh, na ’n nabygeleë winkel gestap het.
VEREENIGING – Christa Pelser (46) het tot onlangs toe ’n karige bestaan gemaak deur herwinning te doen, maar haar toekomsplanne is in die weegskaal nadat haar regterarm onlangs net onder die elmboog geamputeer is ná ’n aanval deur ’n Pitbull.
Soos oudergewoonte het Tyson, Christa se Jack Russell-hondjie, aan sy leiband saamgestap.
“Ons was bewus van die kwaai honde by daardie spesifieke huis en tel vir Tyson gewoonlik op as ons daar moet verbyloop,” vertel Christa.
Dit is dan ook presies wat hulle gedoen het. Nadat hulle verby die erf is, het Christa gebuk om Tyson weer neer te sit. Dit is toe dat sy die Pitbull op hulle sien afstorm.
Die hond het blykbaar oor die muur tot in die bure se erf gespring en ’n pad deur die heining gevind tot in die straat.
“Ek het Tyson vinnig weer opgetel, vir Jess gegee en geskree sy moet hardloop.”

Die aanval
Christa het die hond probeer wegstamp, maar hy het op sy pote geland en weer aangeval. Tydens die worsteling het die hond haar hand beetgekry en begin ruk.
“Ek het op daardie oomblik besef my lewe is in gevaar en dat ek moontlik my hand gaan verloor,” onthou sy.
’n Buurvrou wat die aanval gesien het, het die hond se eienaar geroep. Hy het die Pitbull herhaaldelik met ’n stomp geslaan totdat die hond uiteindelik gelos het en huis toe gehardloop het.
Christa is per ambulans na die Sebokeng-hospitaal geneem, waar haar arm ’n dag later geamputeer is.
“Dit was moeilik om die nuus te verwerk, maar ek het dit weens die erge skade halfpad verwag.” Sy is die daaropvolgende Maandag ontslaan.
“Die polisie was reeds daar om ’n verklaring te neem, maar die hond is blykbaar steeds nie uitgesit nie,” sê Christa.
Regshulp word benodig
Die pad vorentoe is vir Christa lyk nou soos ’n reuse-opdraand. Sy kan nie regshulp bekostig nie en haar vriendin moet tans die huur betaal.
Die hond se eienaar het glo tot dusver net R900 bygedra vir hospitaalmedikasie en vervoer. Boonop moet Christa tans ’n reeks inspuitings teen hondsdolheid kry.
“Ek en die eienaar sou oor die situasie en my verlies aan inkomste praat, maar hy het my intussen laat weet die polisie het hom glo aangeraai om alle kontak met my te verbreek,” vertel sy.
Hoewel haar arm fisies goed genees, vreet die bekommernis en frustrasie oor die toekoms aan haar.
“Al wat ek wil hê, is dit wat my regtens toekom in so ’n geval.”
Indien enigiemand Christa met regshulp, advies of die korrekte prosedures kan bystaan, kan sy gekontak word by 079 772 0376.
