Gesin tweede keer getraumatiseerd
Tracy Rudolph meen geen familie behoort ooit so magteloos te voel soos wat hulle ervaar het nie. Sy wil die sluier lig oor die beproewing wat families soms deurmaak wanneer hul geliefdes in ’n staatshospitaal beland.
MEYERTON – “Jou ma is dood.” Dit is die koue woorde wat ’n dogter moes hoor toe sy haar ma in ’n plaaslike staatshospitaal wou besoek.
“Daardie woorde sal vir die res van my lewe by my bly,” vertel Tracy Rudolph met ’n gebroke hart.
In minder as twee jaar moes Tracy (29) en haar twee susters hul ouers aan die dood afstaan.
Hul pa is in Oktober 2024 wreed in sy huis in Boltonwold vermoor, ’n verlies waarvan die familie steeds probeer herstel.
Nou moes hulle ook hul geliefde moeder, Marinda Rudolph (60), afstaan.
Marinda is in die hospitaal opgeneem nadat sy haar heup gebreek het. Sy is op 25 April opgeneem en op 2 Mei oorlede.
“My ma se been was vir ’n week lank in traksie, maar daar was nooit werklik sprake van ’n operasie of enige duidelike dringendheid rondom haar behandeling nie. Gedurende hierdie tyd het ons as familie gevoel sy ontvang nie die nodige sorg en aandag wat haar toestand vereis het nie,” sê Tracy.
“Ons voel sy moes baie beter gemonitor gewees het, aangesien pasiënte in sulke toestande ’n hoë risiko vir komplikasies soos bloedklonte kan hê. Boonop het sy meestal net generiese pynpille gekry terwyl sy duidelik besig was om te ly.”

Daar het toe ’n bloedklont ontwikkel wat na haar long beweeg het en tot haar dood gelei het.
“Ek was op pad hospitaal toe toe ons ’n oproep kry dat my ma in ’n koma is.”
Met hul aankoms was dit egter reeds te laat. Marinda was reeds oorlede.
“My ma was juis so bang toe sy in die hospitaal opgeneem is, en ek het haar getroos en gesê sy moenie bang wees nie, die Here is by haar,” vertel Tracy.
Die familie worstel nou met baie vrae en het baie onsekerheid oor die sorg wat Marinda ontvang het.
“Niemand verdien om soos net nog ’n nommer behandel te word nie – veral nie as hulle in erge pyn is nie,” beklemtoon Tracy.
“Ek deel hierdie storie nie net uit diepe hartseer nie, maar in die hoop dat daar dringend aandag gegee sal word aan pasiëntsorg in staatshospitale.
“Mense verdien behoorlike behandeling, respek en menswaardigheid, ongeag waar hulle versorg word.”
* Marinda Rudolph het die afgelope 30 jaar in Meyerton gewoon en in Alrode gewerk. Sy sal onthou word as ’n besondere vrou wat vir baie mense ’n inspirasie was.
