200 Handgebreide komberse maak warm
Die winter is hier, maar 200 mense het nuwe komberse die naweek ontvang om bietjie van die koue weg te keer.
SASOLBURG – In 2023 het die Vlytige Vingers 78 komberse aan verskeie organisasies geskenk om te help teen die winterkoue. In 2024 was daar 105. Vrydag is 200 komberse uitgedeel.
Wat hierdie komberse ekstra spesiaal maak, is dat elkeen bestaan uit gebreide en gehekelde blokke wat met liefde deur dames van regoor Suid-Afrika en so ver as Namibië gemaak is.

Die blokke word dan deurgestuur na Melinda Hanekom en haar span wat die blokke aanmekaar werk en ʼn rand om hekel.
Vrydag het die groot koue en nat gras die dames verhoed om die komberse op die grasperk by die DP de Villiers stadion uit te pak soos wat hul gewoonlik doen.

Die komberse is wel binne die klubhuis uitgepak waar dit eers besigtig is voordat dit uitgetel en in netjiese hope gepak is. Elke hoop met ʼn naam van ʼn instansie op wat dit ook self kom haal het.
Tien instansies het hierdie jaar komberse ontvang. Een van die administratiewe lede van die groep, Hettie Pretorius sê daar het baie gebreide blokke van Tshipise ingekom waar ʼn groep dames ywerig die naalde laat klik het.

Sy het ook melding gemaak van ʼn teatersuster in Kemptonpark wat ʼn groep saam met haar kollegas gevorm het en ook heelwat blokke gestuur het. Oral waar die Vlytige Vingers hul bevind is hul hekelpenne, breinaalde en wol byderhand.
Hettie sê nou die ander dag het sy gesit en gebrei terwyl haar motor gewas is. Twee dames het met haar begin gesels en kort voor lank was hul ook lede van die breigroep.
Hierdie komberse beteken nie net baie vir die mense wat dit ontvang nie. Vir die wat die naalde laat werk is dit ook van groot belang. Elke steek word met liefde gedoen.

Melinda Hanekom vertel van ʼn ouerige dame wat in niks meer belanggestel het na haar man oorlede is nie. Haar kinders het haar oortuig om by Vlytige Vingers aan te sluit en dit het haar lewe weer doelwit en sin gegee.
Melinda het Essential Hardeware in Vaalpark bedank vir die vervoer van die komberse. Die dames vra dat mense asseblief vir hul wol moet skenk.
Selfs afval bolletjies wol word in die kleurryke komberse ingewerk. Wolskenkers of mense wat wil deel word van die ywerige groep dames kan Hettie Pretorius kontak by 082 787 2707.
