Rubriek: ‘Sit ‘n tjoppie op die vuur en raak vir my rustig’
Almal maak deesdae 'n bohaai oor elke prestasie.

SA Rugby gaan met die aankondiging en petoorhandiging van die Springbokke se wêreldbekergroep moet uithaal en wys om in pas te bly met skole.
Ou boeta alles moet deesdae ‘n staande toejuiging kry… As klein Kosie die bal raakskop moet daar ‘n TikTok gemaak word van Spiderman wat die trofee vir hierdie wonderbaarlike prestasie aan Kosie oorhandig.
Ons almal besef dis taai tye en dat borge so skaars soos hoendertande is. Almal eis mos hul pond vleis.
Niks is immers verniet nie. Mens soek mos opbrengs op jou “belegging” of hoe? Tradisie is pragtig en bitter nodig, maar om oorboord te gaan met funksies, sprekers en driegangmaaltye is vir my effens absurd.
Dit is ook nie net op Hoërskool-vlak nie. Laerskole het nou ook op die ossewa gespring. Selfs laaste laerskoolwedstryde word nou ‘n vreeslike affêre wat gevier en op kuberruim verewig moet word in die vorm van ‘n Instagram, Facebook-selfie of iets dergelik.
Dit is beslis ‘n voorreg en ‘n reg om jou kind se prestasie te vier en hulle spesiaal te laat voel, maar hoekom moet daar hierdie konstante onmiddelike ophemeling plaasvind? Ons bloedjies moet tog net nie vir ons kwaad wees nie.
Flikflooi ouers deesdae by kinders? My generasie was tevrede met daardie leeu wat in jou borskas brul wanneer jy jou alma mater se rugbytrui oor jou kop getrek het. Miskien ‘n braai by die afrigter of ouer se huis of so iets.
Niks fancy nie. Nee, hel, deesdae is ‘n capping of gender reveal-partyjie se begroting groter as jou ouma se troue, witterbrood en eerste vakansie saam met die nuwe pienkvoet bymekaargevoeg.
Om die Wyse Man, Snotkop aan te haal: “Sit ‘n tjoppie op die vuur en raak vir my rustig.” Daar is groter dinge om oor te bekommer, soos waar is ELM se spookvloot ter waarde van R16m, of wie gaan Sipho Radebe as burgermeester vervang?