Harte en hande oop vir siek baba
Ons gedagtes en gebede is by die Burgers wie se baba, Christiaan tans kritiek in die hospitaal is.
SASOLBURG – Christiaan Burger is een jaar oud. Hy veg tans om sy lewe in ʼn hospitaal in Sandton.
Die kleinman is gediagnoseer met Hemolities-uremiese sindroom (HUS). Alhoewel sy ouers, Charles en Charlene ʼn mediese fonds het, betaal die fonds nie al die medikasie nie.
HUS is ʼn seldsame, maar lewensgevaarlike siekte wat rooibloedselle vernietig veral onder kinders vyf jaar en jonger.
Klein Christiaan se ouers is tans permanent by hom in die hospitaal. Sy verhaal is oral op sosiale media gedeel, nadat daar ʼn Back-a-buddy rekening gestig is om die gesin te help met onder ander mediese en verblyf onkostes.
Die gemeenskap het hande en harte oopgemaak en binne ʼn paar dae is daar oor die R110 000 ingesamel.
Laerskool Eligwa het op hul Facebookblad die volgende gedeel: “Kom ons staan saam vir Christiaan
Ons Laerskool Eligwa-familie wil graag ondersteuning vra vir Christiaan Burger, die seun van ons geliefde Juffrou Charlene.
Christiaan gaan tans deur ‘n uitdagende tyd, en enige bydrae – groot of klein – kan ‘n verskil maak. Indien jy in staat is om te help, nooi ons jou uit om sy BackaBuddy-veldtog te ondersteun of die plasing met ander te deel.
Elke gebed, elke deel en elke bydrae bring hoop.
Baie dankie vir die omgee, ondersteuning en liefde wat ons gemeenskap altyd aan mekaar bewys.”