Stof, drama en spoed in Parys
Die gewilde INGCO Parys 400 strek oor twee dae (19 en 20 Junie) en is 'n geleentheid vir Valies om top-aksie op hul agterstoep te geniet.
PARYS – Die rustige rivierdorpie gaan binnekort ‘n energie-inspuiting kry van stof, drama en hoëspoed-renne wanneer van die beste jaers ter wêreld in die Vrystaat toesak vir die opening van die 2026 Suid-Afrikaanse Tydren-Renkampioenskap (SARRC).
Die kampioenskap-openingsnaweek sal oor twee dae byna 450 km van hoë-intensiteit-tydrenrenne lewer, wat mens en masjien sal toets in een van die taaiste formate op die nasionale motorsportkalender.
Dit sal die agtste keer wees dat die geleentheid in die Parys-omgewing aangebied word. Vanjaar sal deelnemers weer eens oor twee provinsies jaag.
Hoewel die grootste deel van die roete nader aan Parys in die Vrystaat geleë sal wees, sal die roete langs die oewers van die Vaalrivier spanne oor die grens na die Noordwes-provinsie neem.
“Dit is een van die mees veeleisende weke van die seisoen,” sê die HUB van SA Rally-Raid, Archie Rutherford.
“Dit is renne in die styl van die Dakar, waar deelnemers die absolute spoed moet balanseer met meganiese beplanning en strategie.”

Onvermydelike vertragings
Aanhangers sal verheug wees dat die seisoen uiteindelik aan die gang is ná onvermydelike vertragings wat veroorsaak is deur die uitbreek van bek-en-klouseer in die Noordwes-provinsie.
Dit het gelei tot die uitstel van die Stella-byeenkoms, terwyl strawwe storms en vloede in die Suid-Kaap die uitstel van die Outeniqua 600 na Augustus gedwing het.
Die wedren in Parys lewer altyd fantastiese aksie en vanjaar se roete sal weer ’n behoorlike toets vir deelnemers bied, terwyl dit opwindend vir toeskouers bly,” sê Rutherford.
“Ons het van die beste dele van verlede jaar se dubbelbyeenkoms geneem en dit gekombineer in ’n roete wat iets van alles bied,” het rendirekteur, Evan Hutchison bygevoeg.
Roete
Die aksie begin op Vrydag, 19 Junie, met die kwalifiserende wedren wat om 09:30 naby die renhoofkwartier by Stonehenge River Lodge sal begin.
Die kwalifiserende uitslae sal die wegsprongvolgorde bepaal vir Skof Een, wat om 12:30 begin.
Saterdag se aksie begin met ’n seremoniële vertrek vanaf Stonehenge River Lodge voordat deelnemers om 08:30 na die begin van Skof Twee vertrek, net oorkant die N1-brug.
Die 200 km-roete sal spanne deur ’n mengsel van modderige dele, oop grasvelde en tipiese Vrystaatse mielieland-terrein neem.
Die roete kronkel in die rigting van die Weiveld-graansilo’s en die Boereverenigingsaal voordat dit die R82 bereik en via Dover-treinstasie terugloop na die eindpunt naby die N1.
Na ’n verpligte dienspouse van 30 minute, sal deelnemers dieselfde skof vir ’n tweede keer aanpak. “Hierdie skofte is ’n baie goeie kombinasie van vinnig en tegnies,” sê Hutchison.
“Bestuurders en navigators sal regdeur skerp moet bly, want klein foutjies kan vinnig duur te staan kom.”
Stonehenge River Lodge
Stonehenge River Lodge sal weer as Renhoofkwartier en die Aangewese Dienspark (DSP) dien, wat uitstekende toeskouertoegang en ’n lewendige atmosfeer bied vir aanhangers wat die aksie regdeur die naweek volg.
Die geleentheid bied ook ’n welkome hupstoot vir toerisme in Parys en die omliggende streek, met spanne, beamptes, ondersteuningspersoneel en toeskouers wat plaaslike verblyfplekke, restaurante en toeriste-attraksies ondersteun.
Vir aanhangers wat ’n selfs nader ervaring wil hê, sal VIP-gasvryheidspakkette weereens uitstekende kykgeleenthede, spogkos en eksklusiewe agter-die-skerms-toegang tot die spanne en ryders bied.
Helikoptervlugte
’n Nuwe toevoeging tot die VIP-area is die insluiting van opwindende helikoptervlugte, waar toeskouers ’n voëlvlug-uitsig oor al die aksie kan geniet.
Valies met ‘n liefde vir motorsport word aangeraai om die aksie op hul agterstoep te benut, want die INGCO Parys 400 beloof ’n onvergeetlike openingshoofstuk vir die 2026 SA Tydren-Renkampioenskapseisoen.
