News

Blomme en kerse vir GPF-lid

Kerse, blomme en kranse is Sondagaand langs die R42 neergelê ter nagedagtenis aan Dalena Willeboordse (53), die geliefde GPF-vrywilliger wat Saterdagaand tydens 'n padblokkade doodgery is.

VANDERBIJLPARK. – Polisiebeamptes, lede van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), familie, vriende en ondersteuners het Sondagaand hulde gebring aan Dalena Willeboordse (53), die GPF-lid wat Saterdagaand tydens ‘n padblokkade langs die R42 (Barrageweg) dood is.

Die groep het om 18:00 by die Vanderbijlpark-polisiestasie byeengekom voordat hulle in ‘n konvooi na die ongelukstoneel vertrek het waar Willeboordse noodlottig beseer is.

Kerse en ‘n foto van Dalena Willeboordse, die reservis wat Saterdagaand dood is nadat sy deur ‘n voertuig raakgery is tydens ‘n padblokkade. Foto: Christiaan Cloete

Willeboordse, wat onder haar radio-roepsein “A Angel DW1” bekend was, is volgens berigte deur ‘n voertuig getref terwyl sy saam met ander lede besig was om ‘n padblokkade van Operasie Shanela op te ruim.

By die toneel is kerse aangesteek en kranse neergelê ter nagedagtenis aan die geliefde gemeenskapsvrywilliger. Willeboordse se ouers was ook teenwoordig.

‘n Emosionele atmosfeer het geheers terwyl kollegas, vriende en familielede hulde gebring het aan ‘n vrou wat volgens hulle haar tyd onselfsugtig afgestaan het om die gemeenskap veiliger te help maak.

Dalena Willaboordse se ouers tydens ‘n kranlegging by die ongelukstoneel. Foto: Christiaan Cloete

Vanderbijlpark se waarnemende stasiebevelvoerder, kol. T. Mashele, het die beweerde nalatigheid van motoriste veroordeel en gesê die reg sal sy gang gaan.

Willeboordse se dood het skokgolwe deur die veiligheids- en gemeenskapsgeledere van die Vaal gestuur, waar sy bekend was vir haar betrokkenheid by misdaadvoorkoming en gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe.

‘n Polisielid plaas ’n kers by die ongelukstoneel langs die R42 tydens Sondagaand se huldeblyk aan Dalena Willeboordse. Foto: Christiaan Cloete

Die bestuurder van die voertuig wat haar getref het, is kort ná die voorval in hegtenis geneem op ‘n aanklag van strafbare manslag. Die bestuurder het egter nog nie in die hof verskyn nie. Die saak is nog in ‘n vroeë stadium en verdere ondersoekwerk moet afgehandel word voordat die hofverrigtinge kan voortgaan. Regskenners wys daarop dat strafbare manslagsake dikwels lank neem om afgehandel te word en dat dit jare kan duur voordat ‘n finale uitspraak gelewer word.

Die polisieondersoek duur voort.

‘n Emosionele atmosfeer het geheers terwyl kollegas, vriende en familielede hulde gebring het aan Dalena Willeboordse. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button