Local newsNews

Gru-ongeluk op R59 eis nog ‘n lewe

n Motoris is dood in 'n ongeluk met 'n brandstoftenkwa net buite Sasolburg voordat die tenkwa in vlamme uitgebars het.

SASOLBURG – ’n Tragiese ongeluk tussen ’n vragmotor en ’n ligte motorvoertuig op die R59 het een persoon se lewe geëis en nog een beseer gelaat.

Die botsing het vanoggend sowat 10 km buite Sasolburg op die pad na Parys plaasgevind, waarna ’n brandstoftenkwa aan die brand geslaan het.

Brand- en reddingsdienste het bykans drie uur lank teen die hewige vlamme geveg. Spanne van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit het saam met Sasol se brandweerafdeling gewerk om die brand te blus.

Dik, donker rook het die lug gevul terwyl brandbestryders skuim gebruik het om die vlamme te onderdruk.

Toe die rook uiteindelik opklaar, het die toneel soos iets uit ’n rolprent gelyk, met slegs die onderstel en die erg uitgebrande troktrekker wat oorgebly het.

Teen die tyd dat Ster op die toneel aangekom het, is die swaar beskadigde ligte motorvoertuig reeds weggesleep.

Nooddienste, die polisie en verkeersbeamptes het almal na die toneel gehaas. Verkeersbeamptes het die vloei van verkeer bestuur, terwyl polisielede ’n groep nuuskieriges wat by die ongelukstoneel saamgedrom het, onder beheer gehou het.

Die erns van die voorval het ook senior polisiebeamptes na die toneel gelok, waaronder die Fezile Dabi-distrikskommissaris, generaal Makubo.

Dit is die tweede noodlottige ongeluk op die R59 binne ’n week. Op 2 Junie het ’n gru-kop-aan-kopbotsing tussen ’n bakkie en ’n gastenkwa naby Sasolburg die lewe van ’n 23-jarige bestuurder geëis.

Teen druktyd het die polisie nog nie op navrae oor die besonderhede van vandag se ongeluk gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button