MIDVAAL. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het verlede week sy Oorlog teen Slaggate-veldtog voortgesit, met 555 slaggate wat verlede week herstel is as deel van die munisipaliteit se voortgesette poging om padinfrastruktuur te verbeter.
Volgens die munisipaliteit het padspanne herstelwerk op drie hoofpaaie voltooi wat as prioriteitsgebiede geïdentifiseer is, naamlik Bul-Bulweg, Seymourweg en Joos Williamsonstraat.
Werk aan slaggate sal nou voortgaan op onder meer Southweg, Boet Krugerstraat, Sebrastraat, Wisconsinweg, Vlakhaasstraat, Van der Bylstraat, Bennie Liebenbergstraat en Gourleyweg.
Benewens herstelwerk aan slaggate het gradering-spanne werk op ses paaie in Walkers Fruit Farms, Mooilande, Riversdale en Meyerton Farms voltooi om padtoeganklikheid en rytoestande te verbeter.
Wekers het ook 27 stoptekens geverf, 12 geroeste verkeerstekenpale opgeknap, een voetoorgang geverf en die merke op 17 spoedhobbels oorgeverf om sigbaarheid en veiligheid vir padgebruikers te verbeter.
Die munisipaliteit sê spanne sal verder ontplooi word om stormwaterinfrastruktuur skoon te maak, sowael as gras en bome te snoei waar dit watervloei kan belemmer.
Die kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is, werk tans op Boundaryweg, waar instandhoudingswerk aan ’n erg beskadigde gedeelte van die pad volgens die munisipaliteit goed vorder.
Die veldtog beweeg nou na De Deur, wat as een van Midvaal se mees uitdagende gebiede vir padinstandhouding en herstelwerk beskou word. Volgens die munisipaliteit bly die doel om veilige en betroubare paaie vir alle inwoners te verseker.
