Ons onthou… Juf. Karin sou vandag 60 wees
Ons onthou Karin Baker wat vandag 60 sou wees. Dit was 'n voorreg om haar te ken.
VAALPARK – Karin Baker, voormalige skoolhoof van Vaalpark Primêr sou vandag 60 gewees het. Sy is verlede jaar aan kanker oorlede.
In 2023 het sy gehoor dat die kanker weer toegeslaan en versprei het. Sy het derhalwe besluit om af te tree om meer tyd saam met haar familie te spandeer.
Sy word onthou as iemand wat almal met deernis, empatie en ʼn hart vol liefde hanteer het. Karin het in Heilbron gematrikuleer en het na skool in Bloemfontein studeer. Sy is einde 1989 getroud waarna die egpaar Vaalpark toe verhuis het.
Sy het by die Primêre Skool Lumiére as ‘n graad twee onderwyseres begin en was by die skool betrokke tot 2013. Intussen het sy verder studeer en haar honneurs- en meestersgrade voltooi.
Sy het ook studente opgelei by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein en by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) met betrekking tot graad 4 – 7 en sy het klasse in veerkragtigheid (Resilient Educators Programme) by die Noordwes Universiteit aangebied.
Karin het in Junie 2013 die adjunkhoof by Vaalpark Primêr geword. Daarna het sy vir lank as hoof afgelos, voordat sy in 2020 amptelik aangestel is.
Vaalpark Primêr het op hul Facebookblad die hartseer nuus gedeel en gesê:
“Vaalpark Primêre Skool dink vandag met deurnis aan ons voormalige skoolhoof, Mevrou Karin Baker en haar gesin. Mevrou Baker sou vandag haar 60ste verjaarsdag vier.
“You are forever in our hearts, never forgotten! May your soul be blessed, celebrating your 1st heavenly birthday!”
