Ligbloues wen stryd teen Rooibulle
Skolerugby bly tops! Mooi so Valia, julle het vir 'n puik vertoning teen die Rooibulle gesorg.
In ‘n wedstryd wat wipplank gery het tussen Valia en die Rooibulle van HTS Middelburg, het Valia se volharding tot aan die bittereinde vir ‘n puik oorwinning gesorg.
Die punte het veral in die eerste helfte ingerol. Valia het die telbord geopen en daarna het die voorsprong voortdurend afgewissel danksy albei spanne se vurige vertoning.
Met rustyd was die telling 14-11 in die guns van die Ligbloues.
Met die aanbreek van die tweede helfde was daar vir ‘n geruime tyd ‘n punte-droogte, hoewel daar steeds baie aksie was.
Valia het egter weer eerste bloed getrek en die telbord op 21-11 in sy guns te staan gebring. Weer eens het die Rooibulle antwoord gegee en die punte op 18-21 te staan gebring het.
Valia het daarna hard gewerk om sy voorsprong te behou en danksy puik verdediging gesorg om die wedstryd met die eindtelling steeds 21-18 in sy guns te beklink.
Foto’s: Elsje Vermeulen
Nog foto’s in Vrydag se Vaalweekblad.







