Emfuleni wil sonkraggebruikers swaar straf
Inwoners het nog ‘n geleentheid om dié aansoekfooi en heffing teen te staan wanneer die proses binnekort oopgestel word vir openbare kommentaar.
“Die VF Plus sal alles in die stryd werp om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se voorgestelde aansoekfooi en maandelikse heffing op sonpanele te beveg,” sê raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni.
Tydens die jongste raadsvergadering het die raad in beginsel ‘n voorstel aanvaar waarvolgens ‘n aansoekfooi van sowat R2 400 gehef word wanneer ‘n inwoner aansoek doen om sonpanele te installeer en aan die netwerk te koppel.
“Boonop sal sulke inwoners ‘n maandelikse heffing van R463 moet betaal om hul eie betroubare elektrisiteit te verskaf – ‘n diens wat die munisipaliteit nie meer kan lewer nie.
“Die VF Plus beskou dié heffing en aansoekfooi as ‘n desperate poging van Emfuleni om ‘n inkomste te genereer weens sy mislukking om volhoubare krag aan betalende inwoners te verskaf.” verduidelik Senekal.
Dit kom glo nadat die munisipaliteit sy inkomstevoorreg verbeur het weens swak finansiële bestuur en Eskom in 2023 noodgedwonge ‘n verspreidingsooreenkoms met Emfuleni moes aangaan om sy belange te beskerm.
