24 Jaar agter tralies vir moord op meisie
Dit is nog 'n oorwinning in die oorlog teen geslagsgebaseerde geweld. #EndGBVF

SASOLBURG – Dit was ‘n welkome vonnis in die rondgaande hooggeregshof in die dorp toe die 35-jarige Lebohang Johannes Mofokeng verlede week tot 24 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis is vir die verkragting en moord op sy meisie.
Die 34-jarige Nomalanga Dlamini se lewelose liggaam is in Mei 2022 omstreeks 07:00 deur die Zamdela-SAPD langs die pad gevind na inwoners hulle in kennis gestel het van iemand wat daar lê.
Met hul aankoms op die toneel het die polisie die liggaam van ‘n vrou ontdek wat aan die kant van die pad lê, en met ‘n duvet bedek was. Die slagoffer was kaalvoet, het ‘n swart T-hemp aangehad en was van die middellyf af kaal.
Sy het sigbare kopbeserings opgedoen en is op die toneel deur personeel van die nooddienste dood verklaar.
Die saak is aan speurdersersant Oupa Jhekemba toegewys, wat onmiddellik met die ondersoek begin het.
Voorlopige ondersoeke wat op die misdaadtoneel gedoen is, het gelei tot die vinnige in hegtenis neming van die verdagte by sy woning.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die beskuldigde en die oorledene voor die voorval saam by ‘n plaaslike kuierplek (tavern) was.
Terwyl hulle huis toe geloop het, het ‘n argument na bewering tussen die paartjie uitgebreek en in geweld ontaard. Die beskuldigde het die oorledene aangerand en verkrag voordat hy haar op die toneel agtergelaat het.
Danksy deeglike ondersoek en vervolging is Lebohang Johannes Mofokeng skuldig bevind op albei aanklagte.
Nog ‘n arrestasie in die Vrystaat
‘n 40-jarige manlike verdagte is deur lede van die SAPD se Fezile Dabi-distrik-triospan in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.
Op Vrydag, 12 Junie, omstreeks 07:00, het die polisie gereageer op inligting oor ‘n verdagte wat na bewering betrokke was by dwelmverwante aktiwiteite in die Marikana-omgewing van Viljoenskroon.
Die operasionele span het daarheen gehaas. Tydens die deursoeking het die polisie een derde van ‘n Mandrax-tablet en sewe klein ritsluitsakkies (zip-lock) met kristalmetamfetamien (tik) gevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem, en die dwelms is gekonfiskeer vir verdere ondersoek en verwerking.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Viljoenskroon-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van dwelms.

