Kollegepark Trio sit Comrades ore aan
Duisende doen dit elke jaar, maar dit gebeur min dat een skool se hoof, onderhoof en departementshoof die Comrades aandurf.
VANDERBIJLPARK – Die Comrades Ultramarathon 2026 is iets van die verlede, maar oor die dag sal daar nog lank gepraat word.
Die algehele wenners, George Kusche en Gerda Steyn het die rekords laat spat en duisende atlete het hul eie stryd gestry om betyds oor die wenstreep te draf.

Laerskool Kollegepark se personeel en leerders het heeldag duim vasgehou vir hul skoolhoof Coenie Herbst, adjunkhoof Hendrik Botha en senior departementshoof Renaldo Jansen.
Die trio het ook die marathon van Durban na Pietermaritzburg aangepak en al drie het die taak suksesvol voltooi.
Vir Coenie was dit sy 32ste Comrades. Hy het klaargemask in ʼn tyd van 11:05:53. Coenie het Maandag gesê sy lyf is darem nie te seer nie en het almal bedank vir hul ondersteuning.

Hendrik het sy derde Comrades gehardloop. Hy vertel altyd hoe dit juis Coenie was wat hom deur sy eerste Comrades gehelp het.
Hy het op sy Facebookblad na hierdie jaar se marathon gesê: “Daarsy Comrades opgesom…. Baie moeilike race gehad…. Bene was van vroeg af baie eina… Maar darem klaar gemaak… Dankie vir almal se ondersteuning …. Dit beteken ongelooflik baie.”
Hendrik het die marathon voltooi in ʼn tyd van 11:21:50. Op sy beurt het Renaldo in ʼn tyd van 11:47:31 klaargemaak.
Dit was Renaldo se tweede Comrades marathon en hy sê dit was ‘n harde dag op die pad, maar hy het dit gedoen met baie genade. Welgedaan aan die drie manne.