Oom Japie… ons harte is seer
Hy was elke dag op sy pos. Meer as net 'n motorwag. Oom Japie het met deernis en empatie vele mense deur moeilike tye gehelp.
VANDERBIJLPARK. – Hy was vir meer as 30 jaar elke dag op sy pos. Japie Jacobs was ʼn motorwag by Cormed Hospitaal. Almal het hom geken.
Vir elkeen het hy ʼn vriendelike glimlag gehad. Vir baie was hy die een wat eerste hul hartseer en blydskap gedeel het wanneer hul by die hospitaal uitkom.
14 Junie is die nuus op Vaalweekblad se Facebookgroep gedeel. Oom Japie is oorlede. Hy het in Februarie sy 78ste verjaarsdag gevier.
Hy het 4 Maart 1994 as motorwag by Cormed Hospitaal begin. In 2024 het hy aan Vaalweekblad vertel hy is fiks en gesond en was 29 jaar laas by die dokter.
Hy het sy goeie gesondheid aan die genade van Bo en drie druppels Dettol saam met ʼn bietjie water elke drie maande toegeskryf.
Maak nie saak wat die weersomstandighede was nie, Oom Japie was altyd op sy pos. Destyds het hy gesê:
“Ek vat nie verlof nie ook nie siekverlof nie. Ek het op ʼn plaas groot geword, as jy daar gaan sit het, het jy slae gekry. My ouers het my geleer as jy nie werk nie, verdien jy nie jou bord kos nie.”
Voordat hy sy pos as motorwag by Cormed ingeneem het, was hy onder andere boukontrakteur en het hy in die Poskantoor gewerk. Op ʼn stadium het sy rug hom moeilikheid gegee en moes hy vir ʼn groot operasie gaan.
Nadat hy van die rugoperasie herstel het en weer kon loop, het hy besluit die Here het hom ʼn tweede kans gegee. Sy missie was nie net om motors op te pas nie.
Hy het mense bemoedig wat hartseer uit die hospitaal gekom het. Hy was ook daar vir almal vir wie daar ʼn moeilike pad voorgelê het.
Oom Japie het ʼn verskil gemaak. Elke dag. Dit kan mens sien uit die kommentaar op die oorspronklike plasing op die Vaalweekblad Facebookgroep. Christine Harley: “RIV oom jy was ‘n mens met ‘n hart van goud.”
Nella Lindeque: “Ag nee, sjoe oom Japie het altyd gesmile, gewerk tot wanneer hy nie lekker gevoel het nie, en deur al die pyn nog steeds gesmile en gevra hoe gaan dit meisiekind, gaan oom mis by Cormed.”
Elsie Vermeulen: “Ai so jammer om te hoor, hy het die mooiste hart gehad, soveel omgee en liefde wat hy uitgedeel het. Ons sal jou altyd in ons harte koester en jy sal gemis word verseker, rus sag oom Japie……”