Oewerhengel groet een van sy grotes
Carol Snyman se heengaan is ’n harde slag wat weerklink deur die SA oewerhengel-gemeenskap, waar sy jare lank as staatmaker diep spore getrap het.
VEREENIGING – Carol Snyman het oor die jare die hoogste sportvlakke in Varswater Oewerhengel bereik.
Dit was dus met groot hartseer dat die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) die nuus gedeel het dat dié gerekende hengelaar op 12 Junie oorlede is.
Carol was ook ‘n trotse lid van die Vrystaat Varswater Oewerhengel Vereniging en het Suid-Afrika gereeld as deel van die Protea-oewerhengelspan verteenwoordig.
Met haar diep passie vir die sport het sy die land by verskeie wêreldkampioenskappe verteenwoordig, waar sy teen die beste hengelaars ter wêreld meegeding het.
Haar vermoë om konstant onder verskillende, uitdagende toestande te presteer, het van haar ‘n ware staatmaker in die nasionale span gemaak.

Vaalweekblad het gereeld oor die jare oor haar prestasies berig.
Benewens haar liefde vir hengel, was Carol ‘n veelsydige sportliefhebber wat deur die jare aan ysskaats, aksiekrieket, diepseeduik, radiobeheer-motorwedrenne, veldry en paalhengel deelgeneem het.
Sy het baie van hierdie hoogtepunte met die liefde van haar lewe, Kobus, gedeel. Hy is egter in 2021 oorlede.
Haar dogter, Charlene Snyman, onthou haar ma as ‘n vrou van inbors: “My ma het diep spore getrap waar sy ook al betrokke was.
“Sy was baie mense se steunpillaar. Sy het ‘n unieke manier gehad om ‘n ding reguit te sê en om op te staan vir wat reg was – al moes sy alleen staan.
“Ek en my broer, Justin, was geweldig trots om haar as ma te hê. Haar hart het altyd plek gehad vir nog iemand.”
Carol sou op 9 Augustus haar 62ste verjaarsdag gevier het, maar haar gesondheid het sowat twee jaar gelede ‘n ernstige terugslag beleef.
Sy het haar oog weens aggressiewe kanker verloor. Hoewel die kanker toe nog nie versprei het nie, moes velkanker ‘n paar maande later ook uit haar skouer verwyder word.
“My ma het vroeër vanjaar nog baie goed gevaar by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Sy is as Victrix Ludorum van die B-span afdeling aangewys, ten spyte daarvan dat sy baie pyn ervaar het.
“Dit was toe eintlik kanker wat reeds na haar lewer versprei het,” vertel ‘n hartseer Charlene.
Daar is sowat ‘n maand gelede met chemobehandeling begin, maar haar niere en lewer het uiteindelik ingegee.
Carol se gedenkdiens word voorlopig beplan vir hierdie Vrydag, 19 Junie om 11:00, vanuit die NG Klipkerk in Vereeniging.
Vaalweekblad betuig ons innige simpatie aan haar familie, vriendekring en die hengelgemeenskap. Mag julle berusting vind in hierdie moeilike tyd.
